|

Watertenk-projek: Drie kleuterskole sal nuwe watertenks kry te danke aan AfriForum

Kimberley gaan steeds gebuk onder waterprobleme en kleuterskole ly veral onder die uitdagings wat met hierdie waterprobleme gepaard gaan. AfriForum se Kimberley-tak het die behoefte aan watertenks by kleuterskole in dié dorp raakgesien en ’n projek van stapel gestuur om watertenks aan kleuterskole beskikbaar te stel.

Die drie skole wat in 2024 gaan deelneem aan hierdie projek is Kiddies Heaven, Kimberley Kids Consortium en Kas Ttiny Steppers.

AfriForum het aan die einde van 2023 aan kleuterskole in Kimberley die geleentheid gegee om ’n fondsinsamelingsprojek voor te stel om geld in te samel vir watertenks. AfriForum se Kimberley-tak sal die suksesvolle skole ook help met die organisering en bemarking van hierdie fondsinsamelingsprojekte. Verder sal dié tak ook R1.50 en R1.00 bydra vir elke rand wat onderskeidelik deur ’n AfriForum-lid en nie-lid geskenk word.

Dié skole het in 2024 sommer vinnig werk gemaak van hul onderskeie fondsinsamelingsprojekte en daar is nog ’n paar wat voorlê waar die publiek betrokke kan raak. Kiddies Heaven het lootjies verkoop en ’n atletiekdag gehou. Kimberley Kids Consortium het ook ’n atletiekdag gehou en op 30 April is daar ook ’n Spur-aand waar 10% van die inkomste tussen 17:00 tot 20:00 aan dié skool gegee gaan word. Kas Ttiny Steppers het tot 1 April ’n vul-’n-blokkie-projek gehou en op 20 April bied dié nasorgsentrum ook ’n bingo-aand aan – kaartjies beloop R100 per kaartjie.

Die doel van hierdie projek is nie net om skole toe te rus met broodnodige watertenks nie maar ook met die nodige kennis om in die toekoms suksesvolle fondsinsamelingsprojekte aan te pak.

“Ons sal graag die hele gemeenskap by hierdie projek wil betrek. Indien daar plaaslike verskaffers is wat kan help met installasie of ondernemings wat graag wil bydra sal ons baie dankbaar wees. Ons wil hierdie ’n jaarlikse instelling maak so wees op die uitkyk vir inligting oor die volgende fase van hierdie projek,” sê Joey Schoeman, tesourier van AfriForum se Kimberley-tak.

Besoek www.wordlid.co.za om by die Kimberley-tak aan te sluit of kontak Schoeman by 066 321 1074 om by hierdie projek betrokke te raak. Indien jy een van die fondsinsamelingsgeleenthede wil bywoon kontak die betrokke skool direk.

Soortgelyke plasings