|

Slaggate nie meer hindernis vir ambulanse ná Benoni-tak 57 van dit opvul

AfriForum se Benoni-tak het verseker dat nooddienste nou op noodgevalle kan reageer sonder vrees dat hulle ’n slaggat tref en talle lewens in gevaar stel. Die tak en talle vrywilligers het die afgelope naweek altesaam 57 slaggate in die gebied opgevul. Hierdie slaggate het gereeld ambulanse se vermoë om op noodgevalle te reageer belemmer, en dikwels die voertuie ernstig beskadig.

Die tak het Saterdag (4 Mei) die hulp van D.O.T Towing and Recovery ingespan om verkeer te reguleer terwyl slaggate in Vyfdelaan, asook Beryl-, Mercury-, Maan-, Eybers- en Shakespearestraat opgevul is.  

“Dit was uiters gevaarlik vir motoriste en voetgangers om op hierdie paaie te wees. Nadat dit aan die lig gekom het dat ambulanse gereeld beskadig word as gevolg van die slaggate, en menselewens dus in gevaar gestel is, was die Benoni-tak genoodsaak om dadelik op te tree,”  sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Afgesien van die feit dat die Ekurhuleni Plaaslike Munisipaliteit versuim om sy verantwoordelikheid aan die gemeenskap na te kom, is dit bemoedigend om te sien hoe inwoners saamwerk om hul omgewing te verbeter. Dit wys dat wanneer gemeenskappe saamwerk, hulle ’n betekenisvolle verskil in almal se lewens kan maak,” sê Ferreira.

Hierdie projek illustreer die impak van gemeenskapsgedrewe projekte en beklemtoon die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid om uitdagings die hoof te bied. AfriForum se Benoni-tak moedig inwoners aan om eienaarskap van hul omgewing te neem. Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum betrokke te raak.

Soortgelyke plasings