| |

AfriForum hou valkoog oor nasionale verkiesing

Lede van AfriForum het vandag opleiding ontvang om op te tree as onafhanklike waarnemers tydens die opkomende nasionale en provinsiale verkiesing. Die organisasie is reeds geregistreer by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) om waarnemers by stembusse te stasioneer om te verseker dat alle prosedures reg verloop. AfriForum het 134 waarnemers geregistreer wat gereed is om landswyd by stembusse ontplooi te word.

“Dit is belangrik vir AfriForum om deel te vorm van die verkiesing, daarom gaan ons lede reg oor die land ontplooi as waarnemers om seker te maak dat daar nie ongerymdhede plaasvind by die stembusse nie. Regverdige verkiesings sorg dat leiers en regerings aanspreeklik gehou word teenoor die mense wat hulle dien. Wanneer landsburgers die geleentheid het om vry en regverdig te stem, kan hulle hul tevredenheid of ontevredenheid met hul huidige leiers en beleid uitspreek. Ons sal alles in ons mag doen om te verseker dat die opkomende verkiesing regverdig geskied,” sê Corné Cronjé, AfriForum se bestuurder van Gemeenskapstrukture.

Volgens Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake, kan die nasionale en provinsiale verkiesing aansienlike implikasies vir munisipaliteite inhou. “Indien ’n plaaslike regering versuim om noodsaaklike dienste aan sy inwoners te verskaf, kan die provinsiale regering intree om die kwessie aan te roer en dienslewering te verseker. Baie munisipaliteite in die land word op hierdie stadium uiters sleg bestuur, wat swak dienslewering tot gevolg het. Hierdie munisipaliteite het dringende ingryping van provinsiale regerings af nodig en meeste provinsiale regerings beskik tans nie oor die vermoë om hierdie ingryping te bewerkstellig nie. Verandering in die provinsiale regerings kan dus positiewe verandering meebring in terme van munisipale dienslewering.”

Soortgelyke plasings