|

Opwindende nuwe hoofstuk vir Akademia in 2026 met nuwe voltydse kampus in die Wes-Kaap

Akademia, die Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe, het pas aangekondig dat sy geografiese voetspoor in 2026 verder in die Wes-Kaap gaan uitbrei. ’n Kampus vir voltydse studente word in die driehoek tussen Stellenbosch, die Paarl en die noordelike voorstede van Kaapstad beoog.

Die akademiese jaar het vanjaar op ’n hoë noot vir Akademia begin met ’n bykomende voltydse kampus wat in Centurion in gebruik geneem is en twee splinternuwe koshuise wat bekendgestel is. Alhoewel Akademia reeds in die Wes-Kaap dienssentrums in George, die Paarl en Somerset-Wes het, is hierdie sentrums ingerig vir nauurse afstand studies.

Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van die instelling, spreek die voorgenome uitbreiding tot Akademia se pioniersgees, asook sy verbondenheid tot die gemeenskap. Die uitbreiding in die Wes-Kaap sal die reeds bestaande netwerk verder versterk en uitbrei. “Akademia is opgewonde oor dié vooruitsig en is opgewonde oor die toekomstige impak wat ons hier sal kan maak,” sê Visser.

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia

Akademia se besluit om in die Wes-Kaap uit te brei is geskoei op deeglike demografiese navorsing. Volgens hierdie navorsing is die grootste konsentrasie van Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika in die Wes-Kaap. Hierdie realiteit spreek direk tot die instelling se bestaansrede as ’n onafhanklike hoëronderwysinstelling wat ten nouste verbonde is tot die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe.

Studente sal met die nuwe kampus direkte toegang tot Akademia se vyf fakulteite hê, maar dis waarskynlik die opwindende studentelewe wat een van die grootste trekpleisters vir voornemende kontakstudente in die Wes-Kaap sal wees. Visser sê studente sal tydens hul studentejare voluit aan dié studentelewe kan deelneem en hul talente op só ’n wyse verder kan uitbrei om roepingsgedrewe te lewe en tot voordeel van die breër gemeenskap te wees.

“Studentelewe by Akademia het dit ten doel om ’n tuiste te skep waar studente se hart en denke geïntegreerd kan ontwikkel en ons is daartoe verbind om, soos reeds die geval is by ons kampusse in Centurion, ook in die Wes-Kaap in hierdie ontwikkeling van volronde studente te belê,” sê Visser.

’n Datum vir die opening van die nuwe kampus is nog nie vasgestel nie, maar daar word reeds agter die skerms gewerk om die nodige infrastruktuur daar te stel en aan kapasiteitsbehoeftes te voldoen. Die soeke na ’n geskikte ligging vir die kampus geniet nou prioriteit.

Enige navrae kan gerig word aan media@akademia.ac.za.


Soortgelyke plasings