|

AfriForum verwelkom “stinkboete” vir MP-munisipaliteit, teleurgesteld dat amptenare nie persoonlik verantwoordelik gehou word nie

AfriForum het vandag die boete van R200 miljoen, wat die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit gister deur die Bethal-landdroshof opgelê is, verwelkom. Die burgerregteorganisasie voer egter aan dat die betrokke verantwoordelike munisipale amptenare veel eerder persoonlik aanspreeklik gehou moes word vir die verskeie oortredings van omgewings- en waterwetgewing waaraan die munisipaliteit nou skuldig bevind is.

Die munisipaliteit is skuldig bevind aan wydverspreide besoedeling van natuurlike waterhulpbronne met rou riool en die wanbestuur van munisipale vullisterreine wat tussen November 2019 en September 2020 plaasgevind het.  

Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir omgewingsake, word omgewingswetgewing in die algemeen baie streng teen die privaat sektor toegepas. Daarenteen word staatsinstellings, wat van die land se grootste besoedelaars en oortreders van omgewingswetgewing is, dikwels nie aanspreeklik gehou vir oortredings nie. AfriForum verwelkom daarom die hof se besluit om so streng teen die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit op te tree, en deur middel van ’n boete en gepaardgaande hofbevel die munisipaliteit te verplig om noodsaaklike herstelwerk aan munisipale infrastruktuur uit te voer.

AfriForum is egter teleurgesteld dat die betrokke munisipale amptenare nie persoonlik aanspreeklik gehou word nie. Dit is noodsaaklik dat die privaat sektor en staatsinstellings oor dieselfde kam geskeer word wanneer dit kom by omgewingswetgewing. Dit is egter onbillik dat direkteure van maatskappye persoonlik aanspreeklik gehou word vir oortredings, terwyl munisipale amptenare skotvry van hul misdade afkom.

’n Verdere bekommernis is dat die boete wat aan die munisipaliteit opgelê is, en derhalwe uit die munisipaliteit se begroting betaal moet word, effektief beteken dat belastingbetalers moet pa staan vir die boete. Dít terwyl die gemeenskap reeds boet vir die munisipaliteit se mislukkings en besoedeling.  

“Die feit dat ’n voorstel om ’n nuwe, weelderige motor vir die burgemeester aan te koop onlangs in die munisipale raad ter tafel gelê is, beklemtoon net hoe ongeërg munisipale amptenare is om hul verpligtinge in diens van die gemeenskap uit te voer. Dienslewering kan nie langer in die hande van misdadige munisipale amptenare gelaat word nie,” sê De Vaal.

Die boete wat Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit nou opgelê is, sal die finansiële verknorsing waarin die munisipaliteit homself reeds bevind net vererger, verduidelik De Vaal. Hy hou vol dat die R3 biljoen wat reeds aan Eskom verskuldig is, en die R800 miljoen wat die munisipaliteit aan Rand Water skuld, tesame met die boete van R200 miljoen ernstige kommer laat oor die volhoubaarheid van die munisipaliteit.

AfriForum sal na die munisipaliteit uitreik om te help om die besoedelingsprobeleme, wat steeds in vele opsigte voorkom, te takel. Volgens De Vaal beskik die gemeenskap oor die nodige kundigheid én bereidwilligheid om hierdie probleme op te los.

Soortgelyke plasings