|

Oranjerivier nou rivier van riool

Die AfriForum-tak in Upington het op 27 Oktober ’n brief aan die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit gerig nadat dit onder dié tak se aandag gekom het dat die munisipaliteit al vir die afgelope paar jaar duisende liters rou riool in die Oranjerivier inpomp om kostes te bespaar. Die rioolwater moet aanvanklik eers deur ’n suiweringsproses gaan.

Die tak het die munisipaliteit vyf dae gegee om hierdie probleem op te los anders sal  AfriForum regstappe teen die Dawid Kruiper-munisipaliteit, die munisipale bestuurder en die amptenaar, wat verantwoordelik is vir die riool in Upington, oorweeg.

Die Oranjerivier is een van Suid-Afrika se belangrikste riviere en verskaf water hetsy vir landbou gebruik of vir menslike gebruik.

Werner Strauss, die distrikskoördineerder van die Kalahari en ’n lid van die Upington-gemeenskap, het monsters van die riooluitloop gaan neem en  dit op 25 Oktober by PathCare ingedien om getoets te word. Luidens die resultate wat op 27 Oktober aan AfriForum se Upington-tak teruggestuur is, is daar  E. coli en fekale  koliform in die Oranjerivier ingepomp. Dit kom daarop neer dat rou riool nie deur die suiweringsproses by ’n rioolwerke gaan nie.

Daar is ook vasgestel dat die Vaal-, Harts- en die Oranjerivier, wat in mekaar invloei, deur ongeveer 30 stede en dorpe besoedel word omdat die rioolwerke óf nie werk nie, óf net nie meer bestaan nie, en direk in hierdie riviere van altesaam 4 200 kilometer inloop.

Daar is ook met die munisipaliteit kontak gemaak oor die riool wat direk by die Kalahari-winkelsentrum en by Kameelmont in die rivier invloei. Daar is al menigte e-posse aan die munisipale bestuurder, Elias Ntoba, en Padwald Jonker, ’n amptenaar van die Dawid Kruiper-munisipaliteit, gestuur om vergaderings te reël, maar daar kom niks van nie.

“Dit is hartseer dat die ekosisteem daar onder ly en dat die boere se beeste, skape en gewasse as gevolg van die besoedelde water ernstig siek word en/of vrek. Die visse ly ook daar onder en raak steriel as gevolg van die hormone in die riool,” sê Strauss.

“Ons is wel bewus daarvan dat die Dawid Kruiper-munisipaliteit besig is met ’n baie groot opgradering aan die rioolaanleg in Upington, maar die riool loop nou al vir die afgelope paar jaar direk in die Oranjerivier in terwyl die munisipaliteit niks daaraan doen nie. Verskeie korrespondensie tussen AfriForum se Upington-tak, die gemeenskap en die Dawid Kruiper-munisipaliteit bewys dat die munisipaliteit onbevoeg is om na Upington, die Oranjerivier en die natuur om te sien. Selfs die vullisterrein is in ’n haglike toestand om nie eers van die paaie, straatligte en die parke te praat nie.”

AfriForum se Upington-tak moedig die gemeenskap aan om by dié tak betrokke te raak om sodoende druk op die regering te toe te pas om hulle verpligtinge teenoor die gemeenskap asook hulle grondwetlike pligte na te kom: SMS “Upington” na 45344 (R1) om aan te sluit.

Soortgelyke plasings