|

AfriForum eis dringende vergadering oor Noord-Kaapse paaie

Die toestand van die paaie in die Noord-Kaap het die AfriForum-takke in dié provinsie genoop om ’n dringende vergadering van die Noord-Kaapse Departement van Paaie en Openbare Werk, te eis. Dié organisasie meen dat die toenemende agteruitgang van infrastruktuur – veral ten opsigte van paaie – nie net ’n veiligheidsrisiko vir die inwoners van die provinsie inhou nie, maar ook sal lei tot ekonomiese agteruitgang.

AfriForum het ’n brief aan Fufe Makatong, die Noord-Kaapse LUR van Paaie en Openbare Werke, geskryf waarin die organisasie aanbied om te help om areas vir verbetering te identifiseer ten einde die veiligheid en lewenstandaard van die inwoners te verbeter.

Die burgerregteorganisasie beoog om tydens ’n vergadering oplossings vir die kwessies te bespreek asook hoe dit in werking gestel kan word.

Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari meen dat swak padtoestande ’n beduidende impak op inwoners en hul finansies het. “Inwoners wat hierdie paaie daagliks moet aandurf moet meer geld spandeer op die instandhouding van hul voertuie en moet ook vrees vir hul veiligheid.”

Daarbenewens heers daar groot kommer oor ekonomiese impak op die provinsie in geheel – ’n kwessie wat nie deur die huidige ekonomiese klimaat in die land gehelp word nie.

“Die plaaslike toerismebedryf en kleinsakeondernemings trek aan die kortste ent wanneer paaie nie instandgehou word nie. Besoekers wil nie bekommerd wees dat hulle voertuie skade gaan ly as hulle hierdie paaie moet trotseer nie. Dit is tyd dat daar planne in plek gesit word om die paaie weer in ’n ordentlike toestand te kry,” sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo. 

Die paaie wat identifiseer is vir dringende herstel- en instandhoudingswerk is:

  • TR 692 (Siyathemba Plaaslike Munisipaliteit) 
  • DR3032 (Siyathemba Plaaslike Munisipaliteit) 
  • DR 02285 (Karoo Hoogland Plaaslike Munisipaliteit) 
  • DR 02287 (Karoo Hoogland Plaaslike Munisipaliteit) 
  • MR 00568 (Karoo Hoogland Plaaslike Munisipaliteit) 
  • DR 02342 (Karoo Hoogland Plaaslike Munisipaliteit) 

Soortgelyke plasings