|

IVERMEKTIEN: AFRIFORUM SE REGSPAN OORWEEG MOONTLIKE REGSAKSIE

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om moontlike regsaksie te oorweeg na die verbod op die gebruik van Ivermektien wat ontwikkel is vir menslike gebruik as behandeling teen COVID-19. Dít volg nadat die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) dié medikasie, waarvan 3,7 miljard dosisse al versprei is en aan die ontdekkers daarvan die Nobelprys vir Fisiologie of Medisyne in 2015 besorg het, verbied het. Hoewel Ivermektien al vir baie jare in verskeie lande vir menslike gebruik beskikbaar is, is dit tans in Suid-Afrika net as veemedikasie beskikbaar.

AfriForum dring daarop aan dat ondersoeke oor studies wat reeds oor die wêreld gedoen is oor die gebruik van Ivermektien so spoedig moontlik gedoen moet word om te bevestig of dié middel doeltreffend gebruik kan word vir die voorkoming en behandeling van die virus. Sodoende kan dié middel wat algemeen beskikbaar en bekostigbaar is, moontlik veilig voorgeskryf word om COVID-19 te behandel. ’n Groot verskeidenheid studies in verskeie lande toon dat Ivermektien moontlik doeltreffend kan wees om COVID-19 te behandel.

“Dit is irrasioneel om die gebruik van ’n entstof, wat binne maande ontwikkel is, goed te keur en terselfdertyd die gebruik van ’n middel wat bewys is as veilig en al vir vier dekades gebruik word, te verbied. Die eenvoudige werklikheid is dat talle burgers hulle tans sonder die leiding van mediese praktisyns tot veemedisyne wend vir die behandeling en voorkoming van COVID-19. Die goedkeuring van Ivermektien in tabletvorm wat ontwikkel is vir menslike gebruik, is die enigste manier om die gevaar van oordosering wat tans bestaan met die gebruik van vloeibare veemedisyne teen te werk. Dit is onder die huidige omstandighede uiters onverantwoordelik van die owerheid om die invoer en gebruik van Ivermektien wat vir menslike gebruik ontwikkel is, summier te verbied,” sê Barend Uys, AfriForum se hoof van Navorsing.

“Boere gebruik Ivermektien al jare lank as veemiddel en het dit algemeen in hul medisynekaste beskikbaar. Uit kletsgroepe en internetportale is dit duidelik dat boere tans die grootste deel van die gebruikersgemeenskap van Ivermektien uitmaak, sowel voorkomend as noodgeneesmiddel. Saai het ’n direkte belang daarby om landbougesinne en hul werkers te beskerm en die versoek om prosedures, dosisse en regulasies vir die menslike gebruik van Ivermektien goed te keur, is terselfdertyd billik en dringend,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Dit gaan maande neem vir entstowwe om algemeen beskikbaar te wees en intussen sterf mense en werk gesondheidswerkers onder onuithoudbare druk. Indien daar ’n veilige middel beskikbaar is wat moontlik die intensiteit van die pandemie kan beperk en kan help met die verligting van simptome en lyding en sterftes kan verminder, kan dit as ’n brug gebruik word totdat entstowwe beskikbaar is.

Dit is onder die huidige omstandighede nodig om ag te slaan op Artikel 37 van die Helsinki-verklaring van die Wêreld Mediese Vereniging oor die etiese beginsels vir mediese navorsing waar mense betrokke is, wat lui:

In the treatment of an individual patient, where proven interventions do not exist or other known interventions have been ineffective, the physician, after seeking expert advice, with informed consent from the patient or a legally authorized representative, may use an unproven intervention if in the physician’s judgement it offers hope of saving life, re-establishing health or alleviating suffering. This intervention should subsequently be made the object of research, designed to evaluate its safety and efficacy. In all cases, new information must be recorded and, where appropriate, made publicly available.

AfriForum wil mense aanmoedig om medisyne verantwoordelik en in oorleg met hul dokters te gebruik.

Soortgelyke plasings