|

Benoni-stadsaal: Fase 1 van herlewing- en opruimingsprojek skop af

Die Benoni-stadsaal – ’n eens statige baken van dié Oos-Randse dorp – sowel as die stadsaalterrein en die aangrensende sypaadjies het in die afgelope paar jaar tot ’n onooglike skadu van ’n eertydse glorie verval. Die stadsaal is in 2014 gesluit en sedertdien het die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit nog net tientalle leë beloftes oor beplande opknapping gemaak. Dit is tydens die Covid-19-pandemie eers ingespan as ’n skuiling vir haweloses, ’n stap wat ernstige vandalisme tot gevolg gehad het, en het later as ’n inentingsentrum gedien. Intussen het die agteruitgang net voortgegaan, terwyl die metro anderpad kyk.

AfriForum se Benoni-tak weier egter om anderpad te kyk en het daarom die afgelope naweek amptelik ’n herlewing- en opruimingsprojek vir dié baken, in samewerking met verskeie plaaslike organisasies en lede van die gemeenskap, afgeskop. Die tak beoog om ’n einde te maak aan die verval en gebrekkige instandhouding van die gebou en terrein.

Die eerste fase van die projek is Saterdag afgeskop met die opruiming van die sypaadjie in Prinseslaan. Vrywilligers het saamgespan om bossies, gras, blare en rommel op te ruim. “Die resultaat van Saterdag se aksie is ’n indrukwekkende transformasie van die vooraansig van die stadsaalterrein,” verduidelik Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand. “Aansienlike vordering is gemaak en het gesorg vir bevrediging en groot vreugde oor wat binne die bestek van net een dag bereik kon word. Ons nooi die gemeenskap uit om rustig verby die stadsaal te ry en die opmerklike en uiters positiewe resultate van hierdie inisiatief eerstehands te gaan aanskou.”

Volgens Ferreira het die Benoni-tak se projek ten doel om toe te sien dié landmerk, waarvan die hoeksteen in 1936 gelê is en amptelik in 1938 ingewy is, nie totaal verval en agteruitgaan as gevolg van swak instandhouding nie. Die tak beoog ook om ander geskiedkundige landmerke in Benoni teen agteruitgang en verval te beskerm. “Ek glo dat hierdie transformasie hoop sal bring vir die gemeenskap wat daagliks met verskeie uitdagings op munisipale vlak gekonfronteer word,” sê Ferreira.

Ferreira beklemtoon voorts dat hierdie projek ’n getuienis is van wat ’n gemeenskap en gemeenskapsorganisasies kan bereik wanneer hulle saamspan om ’n verskil te maak. Hy hoop dat hierdie inisiatief inwoners sal inspireer om betrokke te raak by die tak en om deel te neem aan soortgelyke projekte.

Die Benoni-tak bedank elke organisasie en vrywilliger wat tot die sukses van hierdie projek bydra.

Die tak hoop om binnekort die tweede fase van dié projek aan te pak.

Soortgelyke plasings