|

Parys se drinkwaterramp by die Departement van Gesondheid en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes aangemeld

AfriForum se Parys-tak het vandag die voortslepende haglike toestand van die drinkwater in die dorp by die Departement van Gesondheid en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS)  aangemeld. Die tak vra dat hierdie departemente in hierdie haglike omstandighede sal ingryp voordat daar ernstige siektes in Parys uitbreek wat selfs met lewensverlies gepaard kan gaan.

Die klagte spruit uit die die feit dat die tak al sedert September die munisipaliteit herhaaldelik aangemaan het oor die E. Coli wat in die drinkwater voorkom en al hoe erger geraak het. Die munisipaliteit begryp duidelik ook nie die erns van die situasie nie, want daar word nie daadwerklike pogings aangewend om die toestand om te draai nie.

Benewens die feit dat die water ongeskik vir menslike gebruik is, is daar ook dele van Parys waar die mense vyf jaar laas water in hulle krane gehad het. Die watersuiweringswerke is glad nie op standaard nie, ten spyte van die ooreenkoms wat met AfriForum onderteken is waarin die munisipaliteit ’n deeglike evaluering van beide die watersuiwerings- asook die rioolwerke gegee het met stappe wat hulle moet neem om dit te verbeter.

“Hierdie waterkrisis in Parys is ’n sprekende voorbeeld van ’n munisipaliteit wat glad nie oor die welstand van hulle inwoners besorg is nie. Daar is al soveel hulp aan die Ngwathe-munisipaliteit aangebied, maar hulle slaan eenvoudig nie ag daarop nie. Dit is duidelik dat die munisipaliteit nie bevoeg of bereid is om hierdie probleem op te los nie,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Soortgelyke plasings