|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum was vandeesweek op verskeie gebiede bedrywig en het ná die Hoogste Hof van Appèl se uitspraak dat oudpresident Jacob Zuma se mediese parool onwettig toegestaan is, vertoë gerig aan die Nasionale Kommissaris van Korrektiewe Dienste om uiteen te sit waarom Zuma die res van sy vonnis moet uitdien.

Kommentaar is ook gelewer oor die skokkende misdaadsyfers wat Bheki Cele, minister van Polisie, bekend gemaak het. Die organisasie is van mening dat die skokkende toename in misdaad ’n duidelike bewys is dat die polisie misluk om landsburgers te beskerm. ’n Beroep word weer eens op gemeenskapslede gedoen om by hulle plaaslike veiligheidstrukture betrokke te raak.

AfriForum Gemeenskapsveiligheid het Thandi Modise, minister van Verdediging, uitgenooi om met die organisasie te vergader nadat sy tydens ’n debat oor oorgrensmisdaad aangevoer het dat sekere aspekte van die vorige kommandostelsel weer gebruik moet word.

Die privaatvervolgingseenheid het ’n gesin van Pretoria gehelp om strafregtelike klagtes van afpersing en korrupsie teen lede van die Tshwane-metropolisie (TMPD) in te dien nadat dié gesin na bewering afgepers is om R12 000 aan sewe TMPD-beamptes te betaal. Die gesin was onderweg huis toe ná ’n skoolfunksie toe hulle deur die beamptes afgetrek is.

Die saak teen Johnny “Rockett” Schuurman waarin die privaatvervolgingseenheid namens Milene Hill ’n waaksaamheidsopdrag het, is voorlopig teruggetrek nadat die staatsaanklaer vir ’n derde agtereenvolgende keer versuim het om die vereiste hofstukke in die geslagsgebaseerde saak voor te lê.

Die teenboelieveldtogspan het die British Royal College in Pretoria besoek om leerders bewus te maak van afknouery in skole.

Die Besigheidsbytjiesspan het entrepreneursopleiding aan Solidariteit Helpende Hand se sentrumbestuurders van die Ons Plek-gemeenskapsentrums aangebied. Dié gemeenskapsentrums dien kinders van die gemeenskap deur naskoolse versorging, hulp met huiswerk, voorsiening van kos en ook deur ander behoeftes raak te sien en daarmee te help.

In Stilfontein het die buurtwag in samewerking met die VF Plus en CSS Sekuriteit die Kowie-sirkel en Stilfonteinweg se gras gesny sodat dit netjieser vertoon. Die bome is ook gesny en vullis is opgetel.

’n Wakker AfriForum-buurtwaglid, Yolanda Fritz, se flinke optrede het daartoe gelei dat sy twee inbrekers in hegtenis geneem het. Fritz, ’n lid van die Kaapstad-Noord-buurtwag, het patrollie gery in haar buurt toe sy ’n oproep van ’n inbraak van die buurtwag ontvang het. Die twee inbrekers het ’n handsak, beursie met kaarte en ’n selfoon gebuit. Fritz het die SAPD gekontak asook die sekuriteitsfirma, wat albei binne minute op die toneel was.

Soortgelyke plasings