AfriForum en Solidariteit in Konstitusionele Hof oor onwettige Toerisme-rassefonds

AfriForum en Solidariteit het vandag aangekondig dat hy gereed is om die uitspraak dat die Departement van Toerisme se hulpfonds onwettig is, in die Konstitusionele Hof te verdedig. Dit volg nadat die departement aangekondig het dat hulle die uitspraak gelewer deur die Bloemfonteinse appèlhof in die Konstitusionele Hof sal beveg.

“Dit is duidelik dat die staat vasbeslote is om sy rasse-agenda ten alle koste te dryf. Hy stel nie in redelikheid belang nie en neem geensins die eienaars van sakeondernemings of werknemers wat tydens die pandemie onder swaarkry gebuk moes gaan, in ag nie. Al waarin die regering belangstel, is om sy ideologie van sogenaamde transformasie te implementeer onder die dekmantel van kastige hulp,” sê Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit.

Volgens Solidariteit is die toeken van hulpfondse op grond van ras onredelik, en die appèlhof het dit beaam deur hierdie aksie van die Departement van Toerisme onwettig te verklaar. Solidariteit is van mening dat die pandemie alle sakeondernemings in die toerismesektor getref het, ongeag velkleur en dat die regering die pandemie en staat van inperking uitbuit om sy eie rasse-agenda te bevorder.

“Die kriteria vir die fonds is doodeenvoudig rassisties. Die staat kan dit as transformasie probeer verbloem, maar hy het lankal sy ware kleure getoon. Dit is uiters laag om die skade wat die regering met sy onredelike Covid-19-inperkingsregulasies aan die toerismesektor berokken het, nou uit te buit om teen mense te diskrimineer. Ons is gereed om verder teen hierdie diskriminasie te baklei,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se Veldtogtebestuurder.

“Ons regspan staan gereed om die uitspraak van regter Plasket van die appèlhof te verdedig. Ons sal nie toelaat dat die regering sy rassediskriminasie deur middel van staatskanale implementeer nie. Die regering weier om sy verantwoordelikheid teenoor die ganse Suid-Afrika na te kom en kies om slegs op sy eie amptenare en kaders te fokus. Ons sal hierdie optrede nie duld nie en sal voortgaan om teen die regering op te staan en teen hom te veg vir solank as wat hy sy rasse-ideologie en korrupsie voortsit en die mense van Suid-Afrika benadeel,” sluit Van der Bijl af.

Soortgelyke plasings