|

Pas bekend: Shaun Christie onskuldig bevind aan haatspraak

Shaun Christie, ’n vierdejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus, is vandeesweek onskuldig bevind aan onder meer haatspraak nadat hy aan die begin van die jaar opgestaan het teen die inhoud van ’n oriëntasiegeleentheid vir eerstejaarstudente.Christie se uitgerekte dissiplinêre verhoor het vandeesweek tot ’n einde gekom en hy is uiteindelik slegs skuldig bevind aan die ontwrigting van ’n universiteitsprogram. Hy kan sy studies voortsit en is ’n opgeskorte vonnis opgelê.

Tydens die sessies waartydens Christie opgestaan het, is LGBTQIAP+-regte onder meer bespreek en hy het aangevoer dat studente nie veilig voel om oor Christenskap te praat nie, maar dat gesprekke oor genderkwessies wel toegelaat word.

Christie is in Januarie tydelik geskors en ná ’n interne gesprek met die NWU se dissiplinêre komitee in Februarie is sy skorsing gedeeltelik opgehef sodat hy sy klasse kan bywoon. Hy het AfriForum Jeug kort na die gebeure in Januarie gekontak om hom te ondersteun.

Die NWU het onder meer aangevoer dat Christie homself met opset skuldig gemaak het aan “haatspraak deur studente aan te hits om teen die LGBTQIAP+-gemeenskap op te staan”. Hy is verder daarvan aangekla dat hy ’n universiteitsprogram opsetlik ontwrig het; die regte van die spreker van die betrokke sessie, Chloe Valerie van der Walt, geskend het; homself skuldig gemaak het aan vyandige behandeling van die LGBTQIAP+-gemeenskap; en dat hy wederregtelik en met opset ’n valse uitlating rakende die universiteit se beweerde onverdraagsaamheid teenoor Christelike waardes gemaak het.

“Ek is tevrede met die uitslag van die saak. Die waarheid sal altyd seëvier. Ek het hierdie nie vir myself gedoen nie, maar vir diegene wat nie ’n stem het nie, vir die toekomstige geslagte en vir die toekoms van die onderwysstelsel in Suid-Afrika,” sê Christie.

Volgens Ronald Peters, bestuurder vir AfriForum Jeug, is die organisasie dankbaar dat Christie sy studies kan voortsit en is hulle ook tevrede met die uitslag. “Die voorsitter en paneel het almal ’n kans gebied om hul kant van die saak te stel. Die meriete van die saak is goed aangehoor.

“Die klagstaat teen Christie was swaar gelaai en wek kommer oor universiteitsbestuur se misbruik van mag en viktimisering van studente wat opstaan teen ongeregtigheid. Daar is nog baie werk wat gedoen moet word om dié onreg uit te roei, maar die uitkoms van Christie se saak, is reeds ’n stap in die regte rigting. Ons glo dit sal ander studente ook hoop gee en die moed om op te staan wanneer besluite teen hul waardes is of hul vryheid van spraak beperk,” sê Peters.

Christie was vol lof vir die span by AfriForum Jeug en sy regspan van Hurter Spies Ing. wat hom verteenwoordig het. “Dankie dat julle die jeug se stem beskerm en ons bemagtig om op te staan vir wat reg is sonder om geïntimideer te word. Julle dienste is werklik uitsonderlik en onoortreflik.”

Hy sê verder dat hy graag wou hê dat die paneel ’n bevinding moes maak oor die kern van sy saak wat hy beskou as “die teenwoordigheid van voorkeurbehandeling en indoktrinasie op kampus”. AfriForum Jeug het hom daarom nou daartoe verbind om die oriëntasieprogramme aan openbare universiteite te moniteer om diskriminasie in die keuring van organisasies of individue vir deelname aan die program te verhoed.

Soortgelyke plasings