|

Piet Retief-tak se GOP-kommentaar werp lig op inwoners se daaglikse probleme

AfriForum se Piet Retief-tak het skriftelike kommentaar op die Mkhondo Plaaslike Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) ingedien.

Gedurende die oudit van die 2021/22 finansiële boekjaar is daar bevind dat die Mkhondo-munisipaliteit meer as R25 miljoen beskikbaar gehad het. In sy kommentaar bevraagteken die Piet Retief-tak waarom hierdie gelde nie aangewend is om skuldlas by Eskom te verlaag nie. Die gemeenskap word erg geraak deur lasvermindering wat die munisipaliteit toepas en die dorp basies heeldag sonder krag laat, veral as Eskom ook nog beurtkrag toepas.

Die tak het ook ’n lys van probleme geïdentifiseer wat in die komende jaar aandag moet geniet. Die volgende aanbevelings is aan die Mkhondo-munisipaliteit gemaak:

  • Paaie moet herstel en herbou word. Verskeie roetes in Piet Retief is onbegaanbaar vir motoriste weens die swak toestand van die paaie.
  • Die herstel en skoonmaak van die stormwaterdreineringstelsel moet geprioritiseer word omdat die geblokte dreine veroorsaak dat die strate oorspoel. Dit het verder tot gevolg dat die toestand van die paaie vererger.
  • Die vullisterrein moet beter bestuur word. Die terrein se ingang is gereeld versper wat veroorsaak dat gemeenskapslede nie hul vullis op die terrein kan stort nie. Dit lei tot onwettige vullisstorting buite die terrein.

“Hierdie is die probleme wat ons lede daagliks in die gesig staar. Ons sal aanhou om vir beter dienslewering vir ons lede te baklei,” sê Jan Botha, voorsitter van AfriForum se Piet Retief-tak.

Inwoners word versoek om AfriForum se Piet Retief-tak te ondersteun: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings