|

Bela-proses bewys ANC se minagting vir gemeenskappe en haat jeens Afrikaans

AfriForum beskou die ommekeer dat die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys nou tog alle openbare insette oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet) gaan bestudeer, as positief, maar dink dit is betreurenswaardig dat politieke partye se druk en regsinsette nodig was om dit moontlik te maak.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, sluit die gebeure aan by die meerderheid lede van die komitee se steun vir klousule 5 en 6 van die wetsontwerp, wat die finale besluitneming oor skole se taal- en plasingsbeleid uit die hand van beheerliggame na die provinsiale onderwyshoofde wil oordra. “Sodoende sal demokraties verkose beheerliggame wat die skoolgemeenskappe verteenwoordig, as’t ware gemuilband word – net soos die mense wat moeite gedoen het om insette oor die wetsontwerp te gee, byna stilgemaak is. Dit is ’n aanduiding van die regerende party en sy vennote se magsug en minagting vir die mense wat hulle veronderstel is om te dien,” meen sy.

AfriForum beskou die regering se voortdurende inmenging in skoolgemeenskappe se besluite oor hul taalbeleid as niks anders as ’n verbreking van die akkoord wat voor 1994 onderhandel is en ’n proses van kulturele etniese suiwering nie.

“By tersiêre instellings het ons beleef hoe Afrikaans as sondebok vir die gebrek aan voldoende studiemoontlikhede geblameer is tot die druk só groot was dat die Afrikaanse instellings dubbel- of parallelmediumopsies ingestel het. Daarna het dit blitssnel na enkelmedium Engelse instellings omvorm. Nou sien ons hoe dieselfde resep by skole toegepas word. Die aantal Afrikaanse enkelmediumskole daal en die druk op die res om ook Engels te akkommodeer, neem toe. Dit is ’n soort neo-kolonialisme van ’n spesiale aard wat Afrikaans en die ander inheemse tale uiteindelik onder die oorheersing van Engels gaan laat swig en kinders van die voordele van moedertaalonderrig gaan ontneem. Dit is nie alleen ongrondwetlik nie, maar ’n skande,” voeg Bailey by.

AfriForum moniteer die prosesse wat die wetsontwerp deurloop en is gereed vir regsaksie indien dit in die huidige formaat aanvaar sou word.

Soortgelyke plasings