|

Plaasaanvallers gevonnis; AfriForum-traumaeenheid ondersteun slagoffers

Ntabanyane Tlali, Thabiso Ramollo, Moeketsi Hlauli en Keketso Matsabisa, die moordenaars van Jurie (Tool) Wessels, is verlede week onder meer tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat Wessels op 13 Mei 2019 in ’n plaasaanval gesterf het. Dit was ’n lang pad sedert die aanval vir Wessels se vrou, Liezel, hul dogters en veral die plaaswerkers wat op hul plaas Kapteinsdrift net buite Bonnievale in die Wes-Kaap agtergebly het. Johan Kloppers, berader by die AfriForum-traumaeenheid, het van 2019 tot die vonnisoplegging die pad saam met hulle gestap.

“Ek is nie eens seker wie die traumaeenheid gekontak het nie, maar ek was ’n paar dae ná die aanval in Bonnievale. Ek het Liezel in die hospitaal besoek waar sy baie ondersteuning van familie en vriende gekry het. Sy het my versoek om die plaaswerkers te ondersteun,” vertel Kloppers.

Kloppers het ’n samekoms in die plaaslike kerk vir sowat 20 werkers gereël waar elkeen wat wou kon sê wat op hul hart is. Daar was ’n algemene gevoel van woede en ’n hulpeloosheid onder hulle.

Die sitasie moes ontlont word.

“Ek was die hele dag daar waar diegene wat ’n behoefte gehad het om individueel met my te praat, dit kon doen. Aanvanklik probeer ’n mens net die seer minder maak.”

Dit was veral Niklaas en Anny Baadjies wat swaar getrek het ná Tool en Liezel gemartel is. Hulle is met kookwater gebrand, geskop en geslaan. Tool is uiteindelik die wingerd ingesleep waar hy met sy eie vuurwapen geskiet is. Niklaas het op sy lyk afgekom.

“Ek moet sê Johan het ons verskriklik baie gehelp. As ’n mens oor die aanval praat, het ’n mens steeds baie seer, maar die Here het Johan gestuur om ons seer minder te maak. Die werk wat hy doen, is goed. Elke keer as hy hier is, kom hy om met ons te gesels en hy beteken regtig baie vir ons,” sê Anny.

Die vier moordenaars is almal Lesotho-burgers wat onwettig in Suid-Afrika was. Net een is kort ná die aanval aangekeer. Die ander drie se selfone is tot in Lesotho nagespoor. Die uitleweringsproses was op die punt om dood te loop toe druk van AfriForum daartoe gelei het dat die ander drie na Suid-Afrika uitgelewer is. Die hofsaak het eers verlede jaar in alle erns begin toe al vier moordenaars vir die eerste keer saam verskyn het.

Regter Derek Wille het in sy uitspraak daarop gewys dat die moordenaars die aanval vooraf beplan het en selfs ná hulle Tool en Liezel van meer as R100 000, twee vuurwapens en ’n selfoon beroof het, het hulle Tool steeds vermoor en sy vrou net lewend gelos omdat sy bewusteloos was.

Volgens Kloppers moet hy nog afsluitingsgesprekke met die werkers op die plaas hou, maar noudat die hofsaak afgehandel is, sal die wonde van die aanval darem nie weer in die openbaar oopgekrap word nie.

Die proses van genesing het goed gevorder, maar die hofsaak het weer baie seer veroorsaak.

“Dit was veral moeilik vir die mense wat moes getuig, maar ek voorsien dat dinge stadig maar seker beter met hulle sal gaan. Die traumaeenheid sal mettertyd onttrek, maar is altyd net ’n oproep weg as iemand hulp nodig het.”

* Die vier aanvallers is as volg gevonnis:

Lewenslank vir moord, tien jaar vir poging tot moord, 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede, vyf jaar vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en drie jaar vir die oortreding van die Immigrasiewet.

Soortgelyke plasings