|

Potchefstroom-tak herdenk Konsentrasiekampdag

AfriForum se Potchefstroom-tak het op 16 Junie saam met ongeveer 50 volwassenes en kinders die winterkoue aangedurf om Konsentrasiekampdag te herdenk. Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, het die dag se verrigtinge met Skriflesing en gebed geopen.

’n Oomblik van stilte het gevolg om die slagoffers van die konsentrasiekampe en die Anglo-Boereoorlog te onthou. Daarna het Roy Byers die ramshoring geblaas. Hannes de Villiers het kortliks die feite oor en toestande in die kampe verduidelik en klem daarop geplaas dat Afrikaners hierdie gebeurtenis moet onthou. Lede van die Potchefstroom-tak en die publiek het ook ‘n blomkrans by die monument gelê.

“Ek bedank graag die volgende persone en instansies wat dié dag moontlik gemaak het: Die N.G. Kerk Potchefstroom-Oos vir toegang tot die kerkterrein, Hannes de Villiers vir sy insiggewende lesing, Roy Byers vir die blaas van die ramshoring en Elsa Reyneke vir die pragtige blomkrans. Ek bedank in besonder die Potchefstroom-tak se portefeulje vir kultuur en erfenis wat hierdie herdenking gereël het, asook die jeugportefeulje vir hulle bydrae. Dankie ook aan elke persoon wat die geleentheid bygewoon het,” het Pretorius afgesluit.

Raak vandag nog by AfriForum se Potchefstroom-tak betrokke: Skakel Douglas Bourn by 083 232 1020.

Soortgelyke plasings