|

AfriForum skop Boomplantmaand-projek in Pretoria af

AfriForum het op 4 September sy landswye Boomplantmaand-projek by Wolwespruit in die ooste van Pretoria afgeskop. Tien inheemse witolienhoutboompies (Buddleja saligna, SA boomnommer 636) is aangeplant op ’n groenstrook waar indringerbome vroeër verwyder is. Die witolienhout is 2023 se nasionale boom van die jaar en is bekend as ’n geharde boom wat vinnig in verskeie habitatte kan groei.

AfriForum is op verskeie maniere betrokke om omgewingsvolhoubaarheid te bevorder en die land se natuurlike erfenis te bewaar. Die Boomplantmaand-projek vind elke jaar in aansluiting by Nasionale Boomplantweek plaas met die doel om die publiek oor die belangrikheid van bome in te lig en aan te moedig om inheemse bome te plant.

Die talle voordele wat inheemse bome vir ons omgewing inhou (dit suiwer die lug; skep ’n habitat vir voëls, insekte en diere; beheer stormwaterafloop; demp lawaai; dien as windbrekers; en voorsien skaduwee), dra uiteindelik by tot mense se gesondheid en welstand. Verskeie faktore soos verstedeliking, besoedeling en die onbeheerde verspreiding van indringerplante bedreig egter die volgehoue voorsiening van hierdie voordele. 

“Daarom is die plant van ’n inheemse boom ’n praktiese en simboliese gebaar van volhoubare omgewingsbestuur. Verder is dit ook elkeen se verantwoordelikheid om bestaande bome te beskerm, verklaarde indringerplante uit te roei en kinders van jongs af oor die belangrikheid van bome in te lig,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

AfriForum moedig gemeenskappe oor die hele land aan om gedurende September inheemse bome wat goed in hul omgewing aard, self by hul huise, skole, kerke, gemeenskapsentrums, ouetehuise en parke te plant.  

Soortgelyke plasings