Misdaad
|

AfriForum eis deursigtigheid oor misdaadvoorkomingsbewaarders

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy kommer uitgespreek oor die gebrek aan deursigtigheid oor die werwing- en opleidingsprosedures wat met die aanstelling van Gauteng se nuwe misdaadvoorkomingsbewaarders nagekom is.

In ’n brief aan Faith Mazibuko, die LUR vir Gemeenskapsveiligheid in Gauteng, eis die organisasie antwoorde op vrae oor die opleiding wat die misdaadvoorkomingsbewaarders ontvang het, wie die opleiding aangebied het, hoe die bevelstruktuur van dié bewaarders gestruktureer is en hoe hulle beplan om saam met gemeenskapsveiligheidstrukture te werk.

“Ongelukkig het ons hierdie publisiteitsfoefie voorheen deur ANC-politici gesien waar hulle grenswagte inderhaas opgelei en ontplooi het om die indruk te skep dat hulle besig is om die misdaadkwessie in die land te takel, terwyl amptenare wat nie ’n keuringsproses ondergaan het nie, swak opgelei en onbevoeg is, in die werklikheid in die diep kant gegooi word,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Daarom het die publiek die reg om te weet of hierdie bewaarders die salarisse werd sal wees wat hulle op belastingbetalers se rug gaan verdien en of dit net nog ’n ANC-foefie is ter voorbereiding vir volgende jaar se verkiesings,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings