|

Pretoria FM: Die “stasie te velde” vier 30 jaar

Die “stasie te velde” het 30 jaar gelede ’n opwindende, maar nederige begin gehad. Die afgelope paar dae se feesvieringe plaas ’n kroon op die wense van die pioniers wat hierdie trots Afrikaanse radiostasie op ’n stowwerige heuwel oos van Pretoria begin het.

Pretoria FM vier ’n verjaarsdagfees der feeste

Pretoria FM het die afgelope week dié trots Afrikaanse radiostasie se dertigste verjaarsdag met mening gevier. Die vieringe is die afgelope Vrydagaand afgeskop met ’n dinee wat op die Sol-Tech-kampus in Pretoria gehou is. Verrigtinge is Saterdag voortgesit met ’n gesinskuierdag by die Voortrekkermonument en ’n dankdiens, gelei deur dr. Danie Langner, Sondag.

Verjaarsdagvieringe het Dinsdagaand ’n hoogtepunt bereik met die jaarlikse Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings. Dié geleentheid was nie net ’n skouspel van Afrikaanse musiek nie, maar het ook die beste van die bestes in die Afrikaanse musiekbedryf vereer. Wenners is in 17 verskillende kategorieë aangewys. Die Luisterliedjie van die jaar is Karlien van Jaarsveld en Jacob Swann se “Lief”, terwyl “Impulsief” van Barto met die louere weggestap het as die popliedjie van die jaar. Die Afrikaanse liedjie van die jaar-toekenning is opgeraap deur Bernice West vir haar geliefde snit “Lyfie”. Jannie du Toit is ook vereer vir sy lewenslange bydrae tot die musiekbedryf.

’n Nederige begin

Op 18 September 1993 het ’n nuwe stem vir die eerste keer oor die klankgolwe getrek. Die tafel vir die stigting van onafhanklike radiostasies is vroeër daardie jaar gedek, maar die vestiging van ’n stasie waar die Afrikaner se stem staanplek kon kry, was nie sonder uitdagings nie.

Volgens Willie Spies, uitvoerende voorsitter van Pretoria FM, is die ontstaansrede van enige instelling ook sy bestaansrede – en indien die ontstaansrede tot niet gaan, gaan die bestaansrede ook dikwels verlore. In die geval van Pretoria FM, wat met sy ontstaan in 1993 as Radio Pretoria bekendgestaan het, is die ontstaan- en bestaansrede steeds dieselfde, beklemtoon Spies.

“Om ’n stem aan die konserwatiewe Afrikaners te gee, staan vandag nog net so sterk, indien nie sterker nie, as 30 jaar gelede,” het hy in ’n onlangse radio-onderhoud verklaar.

Die totstandkoming van Pretoria FM is grootliks te danke aan die ywer van veral een man, ds. Mossie van den Berg, toenmalige voorsitter van die Afrikaner Kultuurbond. Van den Berg het in 1993 eers gaan ondersoek instel en kers opgesteek by radiokenners soos Johannes van der Walt, Jaap Diedericks en Chris Conradie. Hierna is ’n openbare vergadering op Donkerhoek, oos van Pretoria, gehou. Die vestiging van ’n eie Afrikaanse radiostasie was die fokus van dié byeenkoms en die terugvoer was oorweldigend – die tyd was ryp en die belangstelling groot.

’n Loodskomitee is verkies en by dié komitee se eerste vergadering, wat op 28 April 1993 op Kleinfontein gehou is, is besluit op die naam van dié nuwe radiostasie. Hoewel dit toe nog net ’n naam op papier was, is Radio Pretoria, waarlik op daardie April-dag in die lewe geroep.

Die komitee, wat aan die begin bestaan het uit Van den Berg, prof. P.F. Nel (ondervoorsitter van die AKB), Chris Conradie, Wim Eek en Peet Pieters, is kort daarna uitgebrei om ook dr. Cas Bakkes, prof. C.J.J. Basson, prof. P.G. Nel, Clem de Klerk en Jaap Diedericks in te sluit. Diedericks, toe reeds ’n afgetrede SAUK-man, het uiters belangrike tegniese kennis gegee wat hom uiteindelik een van die belangrikste bouers en bestuurders van die stasie gemaak het.

Intussen is daar begin met die oprigting van ’n uitsaaitoring op Donkerhoek. Die ligging is as ideaal geag omdat dit uitsending na die hele Pretoria sowel as ’n deel van die oostelike Witwatersrand sou verseker.

’n Missie vir die nuwe radiostasie is saamgestel en het bepaal dat daar met die stasie gestrewe word om “’n Afrikaanse uitsaaidiens daar te stel en seker te maak dat ons taal en kultuurgoedere behou en uitgebou sal word en tot in lengte van dae in volksegte idioom oor die eter na ons volksgenote uitgedra” sal word.

Teen Junie 1993 het die loodskomitee ook die eerste programskedule saamgestel. Daar is besluit dat daar vir eers 28 ure se uitsendings per week gedoen sou word, met daagliks uitsendings van 06:00 tot 08:00 en van 16:00 tot 18:00. Die program moes voorts godsdiensopening, nuus, inbelprogramme en ander programme oor stokperdjies, sport, kompetisies en hoorbeelde insluit.

Op 18 September om 06:00 het die omroeper Johannes van der Walt die eerste historiese woorde oor die radiosender laat hoor toe hy sê: “Dit is Pretoria wat omroep. U luister na Radio Pretoria, die stasie te velde.”

Later die dag het duisende mense op Donkerhoek byeengekom vir die amptelike bekendstelling van die nuwe stasie wat om 16:00 begin het. Tydens dié geleentheid het genl. Constand Viljoen die droom en grootsheid van die oomblik raak verwoord toe hy gesê het: “’n Afrikanerdroom van vele dekades is besig om waar te word. Hier staan ons vandag, in die skaduwee van die radiomas waar ons eie, soete taal, aan ons mense gebring sal word.”

In die jare wat op daardie eerste historiese uitsendings gevolg het, het Radio Pretoria dikwels ’n stryd om oorlewing geveg. Tog was die fokus – soos dit vandag steeds is – ferm gerig op die stasie se ontstaansrede en met dié doel voor oë kon dié stasie, wat die stem vir die Afrikanergemeenskap is, nie net voortbestaan nie, maar ook floreer. Daarom kan dit met reg vandag, in die jaar van Pretoria FM se dertigste bestaansjaar, bevestig word dat dié stasie een van die belangrikste Afrikaanse mediaprojekte van sy tyd is.

Soortgelyke plasings