|

Privaatvervolgingseenheid help Mamelodi-vrou om beweerde aanrander privaat te vervolg

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n aanrandingsaak teen Irvin Thabo Ngobeni aanhangig gemaak namens Nthabiseng Sebothoma. Ngobeni het vandag in die Mamelodi-landdroshof verskyn. Sebothoma het die privaatvervolgingseenheid genader ná die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nie die saak behoorlik ondersoek het nie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) later aangedui het dat hulle nie die beskuldigde gaan vervolg nie.

Sebothoma beweer dat Ngobeni, haar buurman in Moretele Park, haar op 23 September 2023 in die vroeë oggendure wakker gemaak het toe hy aan haar deur geklop het. Sy sê dat Ngobeni beweer het dat iemand sy voertuig se sleutels op haar huis se dak gegooi het en hy wou toegang hê om die sleutels te soek. Sebothoma beweer dat sy vir Ngobeni gesê het hy moet die volgende dag terugkom waarna hy beledigend geraak het en gedreig het om haar dood te maak. Toe sy weier om vir hom toegang tot haar eiendom te gee het hy haar na bewering aangerand deur haar te slaan en skop – hy het ook aan haar klere gekrap en geskeur.

Sy sê dat nie die SAPD of die NVG enigsins belangstelling getoon het om die saak te vervolg nie, ten spyte daarvan dat dit ’n eenvoudige saak is wat deur ’n ooggetuie en mediese verslag oor haar beserings gestaaf kan word.

Sebothoma het self aansoek gedoen vir die nolle prosequi sertifikaat voordat sy AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader het. “Ek voel dat geregtigheid nie gestand gedoen is nie. Hulle het nie die saak behoorlik ondersoek nie en daarom het ek AfriForum genader. Ek is so dankbaar. Ek vertrou dat geregtigheid nou sal geskied. Ek voel rustig en verlig. Ek was só gefrustreerd, dit was ontmoedigend, en dit was ’n emosionele tyd om te weet dat iemand so iets kon doen en ons polisiestelsel, ons regstelsel versuim om die regte ding te doen. So ek het goeie vertroue in AfriForum.”

Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dat die staat sy verpligting om Sebothoma te ondersteun versaak het. “Hierdie is ’n redelik eenvoudige saak, tog het die owerhede geen poging aangewend om toe te sien dat dit behoorlik ondersoek en vervolg word nie. Hierdie is net nog ’n voorbeeld van die SAPD en die NVG se versuim om met slagoffers van misdaad te kommunikeer. Nthabiseng is in die duister gelaat en moes konstant met die ondersoeker en die aanklaer opvolg om terugvoer oor die saak te kry. Waar die staat slagoffers van misdaad in die steek laat sal AfriForum se privaatvervolgingseenheid die slagoffers ondersteun.”

Die saak word deur adv. Phyllis Vorster, ’n privaat aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid hanteer. Die saak is uitgestel tot 6 Augustus.

Soortgelyke plasings