|

AfriForum en prominente rolspelers ontbloot wanbestuur en misdrywe in Netbal SA

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag tydens ’n mediakonferensie lig gewerp op ernstige wanbestuur en beweerde wangedrag oor sake waarby Netbal Suid-Afrika en sy president, Cecilia Molokwane, betrokke is. Die beweerde wangedrag sluit in die versuim om aandag aan ernstige gevalle van seksuele misbruik binne die federasie te gee, magsmisbruik, en ongerymdhede in ’n poging om geldige kommer en stemme te onderdruk.

AfriForum het aangekondig dat hy in afsonderlike hofsake vir Olivia Jasriel en Joseph Taylor met regshulp bystaan, wat fundamentele kommer oor die bestuur van Netbal Suid-Afrika laat ontstaan.

Netbal Suid-Afrika en Molokwane het onlangs ’n lastersaak teen Jasriel, ’n bekende kampvegter teen die seksuele misbruik van kinders en wat ook self ’n slagoffer van mishandeling is, aanhangig gemaak. AfriForum se regspan sal Jasriel bystaan om te wys dat haar openbare uitsprake in die belang van die publiek en waar is en dus nie as laster beskou kan word nie. Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport, beweer dat die saak teen Jasriel bloot ’n Strategiese Litigasie teen Openbare Deelname (SLAPP-geding) is. Dit is ’n poging om die aandag af te lei van meer kritieke kwessies wat tans ervaar word, naamlik die beweerde wanbestuur van Netbal Suid-Afrika en die versuim om ernstige ongerymdhede aan te pak, insluitend bewerings van seksuele misbruik binne die federasie. “Ons glo vas dat die fokus daarop moet wees om hierdie dringende kwessies aan te pak eerder as om ’n kampvegter teen mishandeling teen vroue en kinders in sport in Suid-Afrika stil te maak,” sê Peters.

Verder bied AfriForum ook regshulp aan Taylor in sy saak teen Netbal Suid-Afrika. Taylor se aansoek om inligting, ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA), het misluk of Netbal Suid-Afrika het bloot geweier om die inligting te verskaf, ten spyte van hul wetlike verpligting om dit te doen. “Hierdie inligting het betrekking op kwessies van uiterste openbare belang, insluitend Cecilia Molokwane se lidmaatskapstatus binne Netbal Suid-Afrika en berigte van beweerde finansiële ongerymdhede tydens haar ampstermyn as president,” sê Peters. Verder soek Taylor ook inligting oor beweerde voorvalle van seksuele mishandeling en dokumentasie wat sy skorsing as lid van Netbal Suid-Afrika uiteensit.

Christine du Preez, voormalige visepresident van Netbal Suid-Afrika, het tydens die mediakonferensie eerstehands vertel van ongerymdhede binne die federasie. Sy het bekommernisse uitgelig oor die bestuur van die federasie en die negatiewe impak op verhoudings binne die organisasie beklemtoon wat gelei het tot die benadeling van die federasie self en die netbalgemeenskap as geheel.

Dit is AfriForum se oortuiging dat Netbal Suid-Afrika se beweerde wanbestuur, magsmisbruik en versuim om lewensbelangrike bekommernisse te hanteer nie net die integriteit van die sport verweer nie, maar ook die welstand van die netbalgemeenskap, veral die jeug, in Suid-Afrika in gevaar gestel het. “Ons staan saam met Olivia Jasriel, Joseph Taylor en almal wat antwoorde en aanspreeklikheid soek binne Netbal Suid-Afrika. AfriForum doen ’n beroep op Netbal Suid-Afrika en sy beheerliggame om hierdie kritieke kwessies te prioritiseer en die hoof te bied eerder as om geldige bekommernisse en stemme te probeer onderdruk,” sluit Peters af.

Soortgelyke plasings