|

Potchefstroom-buurtwag hou geslaagde inligtingsaand

Die AfriForum-buurtwag in Potchefstroom het op 9 Mei ’n inligtingsaand vir buurtwaglede en taklede gehou. Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder, het die lede met die tema “Skiet ek of vlug ek? Wat bepaal die wet?” toegespreek. Hy het sy toespraak op ’n interaktiewe wyse aangebied.

Vyftig mense het die geleentheid bygewoon en almal was dit eens dat hulle iets geleer het. Dit is vir AfriForum se Potchefstroom-buurtwag baie belangrik dat patrolleerders goed opgelei is voordat hulle aktief by die buurtwag betrokke raak, daarom word aspirant-patrolleerders eers opgelei voordat hulle toegelaat word om patrollie te ry.

Hierdie buurtwag se 192 patrolleerders het in die vorige maand altesaam 161 skofte in 578 ure gery en 5 090 km afgelê. Talle voorvalle is hanteer en inwoners van Potchefstroom is ondersteun. Die lugvleuel van die buurtwag doen ook waardevolle werk met die hommeltuig.

“Ek is baie trots op die puik werk wat dié buurtwag doen. Ek wil graag ’n beroep op elke inwoner van ons dorp doen om betrokke te raak by die buurtwag. As jy nie patrollie kan ry nie, is daar wel ander maniere waarop jy jou deel kan doen. Baie dankie aan Johan Visser wat die reёlings van hierdie suksesvolle aand getref het,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder in die Mooirivier.

Raak by Potchefstroom se AfriForum-buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak vir Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om aan te sluit.

Soortgelyke plasings