|

Privaatvervolgingseenheid kry lasbrief om Jaco Swart te arresteer

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n reuse-oorwinning behaal in die ontwikkeling en uitbreiding van die reg met betrekking tot private vervolging. Die landdroshof in Kuilsrivier het gisteroggend ’n lasbrief vir arrestasie uitgereik vir die gevonnisde vroueslaner Jaco Swart in ’n saak waar hy daarvan aangekla word dat hy na bewering ’n polisievrou aangerand het. Die eenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, het verlede Maandag die aansoek geargumenteer.

Ingevolge die Strafproseswet moet ’n beskuldigde gedagvaar word om voor die hof te verskyn.  Die dagvaarding moet behoorlik op die beskuldigde beteken word. Anders as die staat, het ’n private aanklaer nie die mag om ’n beskuldigde te arresteer nie. ’n Dagvaarding word dus uitgereik om die beskuldigde se bywoning in die hof te verseker. Indien die beskuldigde dan versuim om op die dagvaarding in die hof te verskyn, en daar is ’n behoorlike betekening, kan die private aanklaer aansoek doen vir ’n lasbrief

In die saak van Jaco Swart kon die private aanklaer nie die dagvaarding op  die beskuldigde beteken nie omdat hy na bewering landuit gevlug het. In die Kuilsrivier-landdroshof het adv. Nel vir adjudant-offisier Riaan Booysen, wat ’n bedrogsaak teen Swart ondersoek, geroep om te getuig dat die beskuldigde onwettig  na die Verenigde Koninkryk gevlug het. Hy het verder getuig oor hoe sy eie pogings om hom in hegtenis te neem onsuksesvol was.

Daar is vasgestel dat Swart Suid-Afrika deur die Lebombo-grenspos, na bewering met ’n vriend se paspoort, verlaat het. Na wat verneem word, het hy toe na Ierland gegaan, waar Suid-Afrikaners nie ’n visum nodig het nie.  Daarna is hy na die Verenigde Koninkryk. Hy werk na bewering  in Windsor. Booysen het aan die hof gesê sy versoek aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om Swart uit te lewer is van die hand gewys omdat dit “te veel papierwerk” sou behels.

Nel het aangevoer dat ’n privaat aanklaer, wat slegs gemagtig is om dagvaarding uit te reik, nie benadeel moet word deur die NVG se versuim om sy plig na te kom nie.

Landdros Nokuzola Sibeko het in haar uitspraak gesê dat die “applicant before this Court has exhausted less invasive measures at her disposal for securing the attendance of the accused in order to have this matter dealt with in accordance with justice.

“The evidence adduced by the Applicant contains, to my satisfaction, the necessary evidence that an offence was committed, that the reasonable suspicion exists that the Accused committed the offence in question, and that such occurred within the jurisdiction of this court.

“In exercising my discretion, I am guided by what the proper administration of justice would dictate under the circumstances presented before me. It is my view that the private prosecutor bringing this application has complied with all the procedural and substantive requirements set out by the law,” het Sibeko gesê voordat hy die lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik het.

Die saak is onbepaald uitgestel sodat verdere pogings om Swart se verskyning in die hof te verseker kan voortgaan. Die eenheid het reeds aan die Britse Hoë Kommissaris geskryf om hulle in te lig oor Swart se status in die Verenigde Koninkryk. Die hoop is dat hy gedeporteer sal word.

Soortgelyke plasings