|

Privaatvervolgingseenheid nou in besit van Fikile Mbalula se Dubai-vakansiedossier

’n Beduidende stap is geneem om Fikile Mbalula, die ANC-sekretaris-generaal, privaat te vervolg op aanklagte van korrupsie wat verband hou met sy 2016-gesinsvakansie na Dubai. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die dossier Vrydag by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se hoofkwartier afgehaal nadat ’n aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Inligting (PAIA) suksesvol was.

Die eenheid is nou selfs meer oortuig dat daar gronde is  vir ’n saak teen Mbalula. Nadat die eenheid die getuienis vlugtig nagegaan het, is dit duideliker as ooit dat die besluit om Mbalula nie te vervolg nie irrasioneel was. Die getuienis dui op moontlike sameswering  tussen getuies en die SAPD; ’n versuim om verklarings van belangrike getuies en moontlike verdagtes te bekom; ’n versuim om belangrike rekords en data te bekom; en swak samewerking tussen die SAPD en aanklaers.

Gedeeltes van die dossier wat nie verskaf is in ooreenstemming met  PAIA nie, is geïdentifiseer, en die privaatvervolgingseenheid sal nou voortgaan om hierdie oënskynlike oorsigfout te hanteer. Die eenheid sal sy grondwetlike reg op toegang tot enige staatsbeheerde inligting uitoefen ter beskerming van hierdie reg.

Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, sê hulle sal die dossier nou fyn bestudeer. “Ondanks tekorte dui die huidige getuienis  daarop dat Mbalula verskeie weldoeners het wat sy uitspattige leefstyl finansier. Die vraag ontstaan, waarom is hierdie leidrade nie opgevolg nie? Bewerings wat in beëdigde verklarings gemaak is, is op sigwaarde aanvaar en nie bevraagteken nie.

“Die verklaring van een van Mbalula se hoofweldoeners is nie eers in die dossier ingesluit nie. Ons is geskok, maar nie verbaas nie, want ons het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gewaarsku teen ’n duidelike botsing van belange weens die familiebetrekkinge met ’n senior NVG-amptenaar. Mbalula se saak is dalk die duidelikste geval nóg van selektiewe vervolging, waar ’n polities verbonde persoon, en sy welgestelde weldoeners, van vervolging beskerm word,” sê Bateman.

Met inagneming van die swak ondersoek en irrasionele besluit om nie te vervolg nie, blyk dit vir ons dat die SAPD en die NVG Mbalula beskerm. Dit het net die eenheid se vasberadenheid versterk om te verseker dat Mbalula sy dag in die hof kry.

“Ons word herinner aan regter Dikgang Moseneke se opmerkings in die Glenister-uitspraak dat korrupsie dreig om feitlik alles wat vir ons kosbaar is in ons swaar verworwe grondwetlike bestel te kelder. Hy voeg by dat wanneer korrupsie en georganiseerde misdaad floreer, volhoubare ontwikkeling en ekonomiese groei vertraag word wat die stabiliteit en veiligheid van die samelewing in gevaar gestel.”

Soortgelyke plasings