Staatsrede-2024: ’n Jammerlike ontkenning van regering se reeks mislukkings

President Cyril Ramaphosa se 2024-staatsrede was besaai met ’n reeks gemanipuleerde syfers, “feite” en leuens waarin feite weerhou is, aangebied in ’n poging om die beeld van die afgelope 30 jaar van ANC-bewind blink te probeer poets. Die president se verwysing na sogenaamde prestasies, ten opsigte van die bekamping van misdaad, vermindering van beurtkrag en suksesse in die onderwys, is egter ’n jammerlike ontkenning van die wyse waarop die regering sy burgers faal. Die kommerwekkende vlakke van werkloosheid, skooluitvalle, swak skoolprestasies en die moordsyfer kan egter nie met slim politieke praatjies weggeredeneer word nie, benadruk AfriForum.

Die staatsrede was voorts, soos verwag, belaai met groot beloftes, sonder enige teken dat daar uit die foute van die verlede geleer is of dat daar van koers verander gaan word.

Die president se “soeke na ’n pen” om boonop die gewraakte wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te onderteken, is voorts ’n skandelike poging om die valse belofte van beter gesondheidsorg te gebruik om ’n paar stemme te wen, sê die burgerregteorganisasie.

Die president se klem op dwase beleide soos NGV, oormatige verwysings na die behoefte vir meer diskriminasie op grond van ras en verhoogde staatsinmenging, is sprekend van ’n politieke party wat eerder stywer sal vasklou aan mislukte resepte as om die mislukkings van die afgelope 30 jaar te erken en aanpassings te maak.

“Daar word gesê dat die definisie van waansin is om dieselfde ding oor en oor te doen en ander resultate te verwag. Die enigste ding wat die toepassing van mislukte beleide meer intens bereik, is om meer intense mislukking teweeg te bring,” sê Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van Openbare Betrekkinge.

“Die 2024-staatsrede wys weer eens dat die gesentraliseerde regering en die ideologies gedrewe politieke party aan die stuur, die hoofprobleme is. Die enigste moontlike oplossing vir die huidige situasie in Suid-Afrika is die afwenteling van mag na gemeenskapsvlak. AfriForum moedig gemeenskappe dus aan om meer selfstandig en onafhanklik van die staat te word. Met meer as 170 buurt- en plaaswagte, meer as 160 takke landwyd en tienduisende vrywilligers op gemeenskapsvlak, verlig AfriForum die weg vir vars, alternatiewe oplossings,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings