|

Privaatvervolgingseenheid verteenwoordig polisiebeampte wat glo deur Gautengse adjunkspeaker aangerand is

Skaars ’n week nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid vir Nicoleen Swart in die hof bygestaan het in ’n aanrandingsaak, het dié eenheid vandag aangekondig dat hulle aansoek gedoen het om ’n nolle prosequi-sertifikaat sodat die hoëprofielpersoon wat sers. Lizzy Mojapelo na bewering in Februarie 2020 aangerand het, vervolg kan word.

Mojapelo, ’n BBP-beskermingsbeampte in die polisie wat ten tyde van die voorval 11 weke swanger was, beweer Vuyo Mhlakaza-Manamela, adjunkspeaker van die Gautengse Provinsiale Wetgewer, het haar aangerand terwyl sy aan diens en in haar uniform geklee was. Mojapela het glo veelvuldige beserings opgedoen en moes vrugbaarheidsbehandeling ontvang om te verseker dat haar swangerskap nie beëindig word nie.

Die beweerde voorval het in Mhlakaza-Manamela en haar man Bhuti Manamela, adjunkminister van hoër onderwys, se huis plaasgevind. Mhlakaza-Manamela was glo onder die invloed van drank toe sy Mojapelo tydens ’n woedebui aangerand het.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vandag tydens die konferensie gesê die regstelsel laat slagoffers van geweld toenemend in die steek en poog om eerder politici as slagoffers te beskerm.

“Ons het hierdie eenheid gestig om die beginsel van gelykheid voor die reg te herstel, insluitend politici wat weens hul verbintenisse van vervolging beskerm word.”

Mojapelo het geen hulp van haar hoofde ontvang om ’n saak te open nie en het ook gehoor hoe haar kollegas net ná die voorval bespreek het dat hulle haar nie na ’n dokter toe gaan vat om ondersoek te word of gaan help om ’n saak te open nie.

Ten spyte van die feit dat Mojapelo die voorval volledig in haar voorvalleboek aangeteken het en mediese verslae bekom het as bewys van haar beserings, het dié saak nooit op die rol verskyn nie en het die Nasionale Vervolgingsgesag verlede jaar geweier om die saak voort te sit.

Senior aanklaers het nadat die saak teruggetrek is aan Mojapelo gesê omdat die verdagte ’n hoëprofielpersoon is, is die saak moeilik vervolgbaar. Mojapelo het ook geweier om die saak buite die hof te skik en meen dat Mhlakaza-Manamela haar optrede in die hof moet verduidelik.

“Ons loof sers. Mojapelo vir haar sterk oortuiging. Ons is daarvan oortuig dat die prima facie getuienis haar weergawe van die gebeure sal ondersteun. Alhoewel daar ’n moontlikheid vir viktimisasie bestaan, wil ons en Mojapelo sien dat geregtigheid geskied.”

Soortgelyke plasings