|

Plaasveiligheid: Dink en doen om te oorleef!

Regslui en kenners van boere se omgewings en omstandighede het vandag ’n dringende beroep op hulle (boere) gedoen om gebeurlikheidsplanne gereeld in te oefen en hul vuurwapens te gebruik indien hul lewens of eiendom bedreig word.

AfriForum het ’n konferensie – Die boer en die reg – by die AfriForum Teater gehou waar kundiges gepraat het oor wat boere te doen staan in geval van betreding en grondgrype. Nuttige regsadvies is ook gegee oor wanneer jy uit noodweer (selfverdediging) mag optree en hoe jy jou vuurwapen moet hanteer.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, het inleidend gepraat oor plaasveiligheid vanuit ’n praktiese oogpunt.

Hy het gesê nie twee boere of twee plase is eenders nie en gevolglik sal veiligheid ook nie dieselfde hanteer word nie. “Plaasveiligheid is ’n ingesteldheid en met elke denkbare faset van die boerdery verweef. Elke boer moet besluit hoe hy homself en sy gesin se veiligheid hanteer en bestuur. Dit is nie iets wat jy in ’n boek kan lees nie.”

De Jager het gesê elke plaas kort ’n gebeurlikheidsplan wat ingeoefen moet word sodat elke lid van ’n gesin presies weet hoe hulle moet optree in geval van ’n aanval. Op ’n praktiese vlak moet daar ook ’n kamer wees waarheen gevlug kan word wanneer ’n aanval dreig. Dit moet toegerus wees met water, noodhulptoerusting en kommunikasiemiddele.

“Wanneer jy na jou veiligheidsituasie kyk, moet jy dink soos ’n skelm. Identifiseer plekke wat ’n moontlike bedreiging is en waar hulle kan inkom. Jy moet dit so moeilik as moontlik vir betreders maak om naby jou huis of in te kom.

“Wees waaksaam en sorg dat jy op elke hoek van jou plaas kom en te alle tye weet wat aangaan. Sorg dat daar goeie samewerking tussen jou en ander boere is en handhaaf goeie verhoudinge met die polisie en ander veiligheidstrukture.”

De Jager meen boere is keelvol vir politieke korrektheid wanneer daar oor plaasaanvalle gepraat word. “Daar is iets meer aan plaasaanvalle. Dit is nie dieselfde as ander geweldsmisdaad nie. Niemand sing Kill a Cape flats gangster soos wat Kill the Boer van verhoë af gesing word nie. Ander geweld gaan ook nie met die marteling gepaard wat jy in plaasaanvalle sien nie. En daar is ook nie dieselfde toejuiging op sosiale media as iemand op die Kaapse Vlakte vermoor word soos wanneer ’n boer doodgemaak word nie…”

Adv. Francois Kriel, lid van die Noord-Gautengse Vereniging van Advokate, het oor noodweer en putatiewe noodweer gepraat en gesê dit is baie belangrik om te weet wanneer jy jouself regmatig mag verdedig. “Noodweer is in die meeste gevalle geregverdig wanneer jy jou lewe en liggaamlike integriteit moet beskerm, in die geval van plaasaanvalle, kapings en wanneer jy jou eiendom regmatig moet beskerm. Om uit noodweer op te tree, is dit belangrik dat ’n aanval teen jou reeds in aanvang geneem het of bedreigend is. Jy moet skiet om te keer dat jy geskiet word.”

Kriel verduidelik dat indien jy ’n vuurwapen aftrek dit essensieel moet wees om ’n aanval af te weer en die minimum geweld moet gebruik word. “Soms is dit genoeg net om te sê dat jy gewapen is.”

Volgens Kriel mag jy ’n oortreder skiet wat in jou huis, wat jou skuiling is, inkom en jou wil aanval. Die perk van noodweer mag egter nie oorskry word nie en daar moenie meer geweld gebruik word as wat nodig is om die aanval af te weer nie. Dit is altyd ’n goeie beginsel om jouself af te vra wat die redelike persoon in dieselfde omstandighede sou doen.

Kriel het ook riglyne gegee wat jy moet doen as jy die slagoffer van ’n aanval was:

  • Maak seker die toneel is veilig en alle risiko’s geneutraliseer.
  • Sorg dat alle wapens weg van jou is.
  • Maak seker jou geliefdes is veilig en gee eerste aandag aan hul beserings.
  • Maak ’n opsomming van die toneel, hoeveel mense beseer is, hoeveel gevlug het en hoeveel aanvallers daar was.
  • Maak jou wapen veilig en skop ander weg om jouself te beveilig. Moenie dit nie met jou hande optel nie.
  • Bly op die toneel tot die nooddienste daar is.
  • Moet onder geen omstandighede aan die toneel peuter, mense rondskuif of patroondoppies optel of iets verwyder nie.
  • Moenie verklarings aan die polisie op die toneel aflê nie en kry die bystand van ’n regsverteenwoordiger.

Adv. Johan Hamman, lid van die Pretoria Balie, het die omstrede kwessie van betreding, jag met honde op plase en grafbesoeke en begrafnisse hanteer.

“Dit is vir grondeienaars moeilik om die polisie te oortuig dat betreding ’n misdaad is. ’n Boer kan self ’n arrestasie uitvoer, maar moet sorg dat die betreder so gou moontlik aan die polisie oorhandig word.”

Hamman wys op verskeie aspekte wat in ag geneem word rondom begrafnisreg soos hoe lank okkupeerders op die plaas gebly het, verwantskap met die oorledene en bepaalde geloofgebruike.

Omdat dit so ’n grys gebied is, raai Hamman boere aan om die versoeke te weier en van die aansoekers te eis om verwantskap en dies meer te bewys. Wanneer grafbesoeke wel toegelaat word, mag ’n boer sekere voorwaardes stel soos dat daar om veiligheidsredes nie vuur gemaak mag word nie.

Wat jag met honde betref, meen Hamman dit word as onwettige betreding gesien, maar boere moet versigtig wees hoe hulle in die situasie optree. Die skiet van honde op jou grond kan problematies wees.

Hy stel voor dat die situasie goed gedokumenteer word en dat foto’s van ’n toneel of insident geneem word.

“Die beste raad is om ’n teenwoordigheid op jou plaas te hê.”

Raymond Hohls, operasionele bestuurder en waarnemende hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het paraatheid en betrokkenheid by verskillende strukture soos plaaswagte, buurtwagte, landbouverenigings, boereverenigings en sekuriteitsmaatskappye beklemtoon sodat veiligheid in die algemeen verbeter kan word. Hy het beklemtoon dat boere ’n vinnige reaksievermoë moet hê en toegangspaaie vinnig moet kan toemaak. Die gebruik van tegnologie soos radio’s en hommeltuie om oortreders vas te trek, is ook van kardinale belang en word al hoe meer doeltreffend aangewend.

Die kwessie van onteiening van sonder vergoeding, is deur Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, bespreek. Hy het daarop gewys dat die ANC glad nie van die plan of beleid gaan afsien nie en alles in sy vermoë doen om met staatsdiefstal van grond voort te gaan. “Die ANC se verskoning dat die beginsel van gewillige koper en verkoper nie werk om die grondkwessie op te los nie, is ’n leuen. Die ANC se probleem is dat hy nie grond aan die mense of opkomende boere wil gee nie, maar eerder aan die politieke elite of diegene wat politieke verbintenisse het. Die ANC is duidelik ’n onwillige verspreider van grond as in ag geneem word dat die regering al R60 miljard aan grondhervorming bestee het, maar nog 6,3% van die grond aan privaat eienaars oorgedra het.”

Volgens Van Zyl is die regering se beleid rondom onteiening sonder vergoeding ’n bose een wat met alle mag beveg moet word.

Hennie Human, spesialisberader by AfriForum se traumaeenheid, het gepraat oor hoe noodsaaklik dit is dat mense wat in plaasaanvalle was traumaberading kry. “Die emosionele veiligheid van ons boere is ontsettend belangrik en hulle moenie stilbly oor wat met hulle gebeur nie.”

Hy het gesê daar is soveel gevalle waar boere en hul gesinne nie meer na hul plase wil terugkeer nie omdat dit nie meer die plek is waar hulle veilig voel nie. “Hulle moet gehelp word om oor hierdie vrees en angs te kom. As slagoffers nie berading vir trauma kry nie, is daar ook die groot kans dat hierdie traumageheue van geslag tot geslag oorgedra kan word wat vernietigend is.”

Adv. John Welch, senior lid van die Gautengse Vereniging van Advokate in Pretoria, het in sy aanbieding op die noodsaaklikheid van vuurwapenkennis en –gebruik gefokus.

“As jou vuurwapen in ’n kluis is, is dit doelloos en as jy nie beheer daaroor het nie, is dit ook doelloos. As jy nie jou vuurwapen in ’n noodsituasie by jou het nie, beteken dit vir jou niks.”

Welch sê mense moet gefokus wees om hul wapens te gebruik. Dit is deel van jou oorlewingsplan vir jouself en jou huis. Wapens moet egter veilig gebruik word en daarom is dit belangrik dat kinders van jongs af opgelei moet word om wapens te gebruik as dit in die huis is.

Marjorie van Schalkwyk, prokureur by Hurter Spies Ingelyf, het praktiese wenke gegee oor wat ’n boer te doen staan in die geval van ’n grondgryp. “Tyd is van kardinale belang. Daar moet baie vinnig opgetree word ten einde byvoorbeeld ’n dringende hofinterdik te kry. Dié proses word vergemaklik wanneer belangrike dokumente soos die titelakte beskikbaar is om eienaarskap te bewys, foto’s en bewyse beskikbaar is van die oortreders wat by die grondgryp betrokke is en daar so gou moontlik ’n saaknommer by die polisie gekry word. Die polisie is dikwels huiwerig om so ’n saak te open, maar daar moet druk op hulle geplaas word om op te tree.”

Volgens Van Schalkwyk is daar drie scenario’s wat grondgrype in die hand kan werk. ’n Plaas wat naby ’n informele nedersetting is, ’n plaas wat nie bewoon of bewerk word of waar daar geen beweging op is nie en opportuniste wat onwettig stukke grond aan grondgrypers verkoop.

Die konferensie is afgesluit met ’n paneelbespreking waaraan dr. Jane Buys van Vrystaat Landbou, Henry Geldenhuys van TLU SA en Hohls deelgeneem het. Die kwessie van kwaadwillige brandstigting en veediefstal is geopper en skokkende syfers is bekend gemaak. Boere in die Vrystaat ly jaarliks na raming tussen R1 en R3 miljard se verliese weens veediefstalle. Net sowat 20% meld veediefstalle aan omdat hulle vertroue in die polisie verloor het of omdat die polisie dikwels ook by die bedrywighede betrokke is.

Volgens Buys is ’n nuwe strategie vir die land nodig om veediefstal hok te slaan. “Ons vorder nie omdat dit georganiseerde misdaad is waarby sindikate en selfs die polisie betrokke is,” het sy gesê.

Soortgelyke plasings