|

Pukke-span wen Dink of Sink-debat met Grondwetargument

Moet Suid-Afrika se Grondwet heeltemal herskryf word of laat die huidige formaat genoeg ruimte vir verandering toe?

Debatspanne van die Universiteit Pretoria (UP) en die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus (NWU) moes oor dié moeilike onderwerp in die finale rondte van vanjaar se Dink of Sink-universiteitsdebatkompetisie debatteer.

Dié kompetisie se eindrondte is weens inperkingsmaatreëls sedert Junie vanjaar uitgestel, maar kon uiteindelik die afgelope naweek by Opikopi Gastehuis in Pretoria plaasvind.

Dié kompetisie se eindrondte kon uiteindelik die afgelope naweek by Opikopi Gastehuis in Pretoria plaasvind.

Anders as die meer informele Dink of Sink-skooldebat, waar leerlinge slegs vyf minute kry om voor te berei, volg Dink of Sink se universiteitsdebat die meer formele Britse parlementêre debatstelsel. Dit behels dat studente ’n uur vir voorbereiding kry, maar die spanne het egter vanjaar 24 uur gehad om voor te berei omdat die finaal so lank uitgestel moes word.

“O, vrek!”, was al vier manne van die NWU-span (oftewel die Veritas-span), se reaksie toe hul dié uitdagende onderwerp ontvang het. “Daar word gereeld gesê dat Suid-Afrika se Grondwet een van die bestes ter wêreld is en omdat die verandering daaraan ’n onderwerp en mosie is wat in ons leeftyd nog nooit toegepas is nie, was dit nogal moeilik om daaroor te beding. Ons moes uit die boks dink,” meen Jack Coetzer, wat tans ingenieurswese studeer.

Jack Coetzer

Louis Boshoff, ’n farmasiestudent wat ook as die beste spreker aangewys is, skerts dat die span hulself naderhand van die mosie oortuig het. “Ek het aanvanklik glad nie gedink dat ek só ’n mosie sal kan ondersteun nie want ons hou van die Grondwet soos hy tans is, maar soos wat ons inligting bymekaar gemaak het en begin dink het oor die saak het ons besef dat daar tog altyd ruimte vir verbetering is.”

Louis Boshoff

Die span het tot die gevolgtrekking gekom dat die Grondwet verouderd is en hernu moet word om nie net die probleme van die verlede reg te stel, maar óók toekomstige uitdagings aan te pak.

“Ek het al baie in Engels debatte gevoer, maar soms is daar ’n gaping tussen dit wat jy sê en dit wat jy wou sê. In jou moedertaal hoef jy nie te dink nie, jy praat direk uit die hart uit.”

Jack Coetzer

“Dit is die mooi ding van debat, jy kan jouself só in ’n onderwerp inleef en anders begin dink oor sake waarvan jy eens vas oortuig was jy nie mee saamstem nie,” sê Reuben Coetzer, ’n regstudent wat sedert gr.9 aan Dink of Sink-skooldebat deelneem. “Dink of Sink-skooldebat het my beslis help voorberei en my ’n hupstoot in die kompetisie gegee. Met hierdie wen voel dit vir my asof die sirkel nou mooi voltooi is.”

Reuben Coetzer

Hul mede-spanmaat, Rian Retief, wat bedryfsielkunde studeer, het ook uitgelig dat debat ’n mens leer om krities te dink en jou selfvertroue ’n hupstoot gee. “Ongeag jou beroep, jy gaan êrens in jou lewe of loopbaan voor mense moet praat of hulle op ’n manier beïnvloed. Debat help om daardie vaardighede te ontwikkel.”

Rian Retief

Om in Afrikaans te debatteer, is ook volgens die span ’n voorreg en hul is uiters trots om as wenners uit die stryd te tree. “Ek het al baie in Engels debatte gevoer, maar soms is daar ’n gaping tussen dit wat jy sê en dit wat jy wou sê. In jou moedertaal hoef jy nie te dink nie, jy praat direk uit die hart uit,” voeg Coetzer by.

Die UP-span: Brigitte Geyer, Cara van der Westhuizen, NJ Nel en MP Fourie

Soortgelyke plasings