|

Ramaphosa, Cele moet verantwoordelikheid vir Senekal aanvaar

Pres. Cyril Ramaphosa en Bheki Cele, minister van Polisie, moet verantwoordelikheid aanvaar vir die gebeure gister in Senekal tydens die eerste hofverskyning van die moordverdagtes van Brendin Horner (21).

Die regering se herhaalde miskenning van plaasmoorde en hul weiering om dit tot prioriteitsmisdaad te verklaar, is die rede vir gemoedere wat gister in dié Vrystaatse dorp oorgekook het.

Ramaphosa het die bestaan van plaasmoorde vroeër op ’n internasionale platform ontken, terwyl Cele boere verlede maand op ’n vergadering in KwaZulu-Natal oor hul probleme uitgelok en verneder het.

Die regering is geensins in voeling met die stryd en pleidooie van landelike gemeenskappe en boere nie.

Die veroordeling van die optrede van die mense in Senekal gister spreek weereens van die regering se dubbele standaarde. Cele en ander ministers eis nou dat dié mense in hegtenis geneem moet word, terwyl dieselfde ministers bloot toegekyk het hoe EFF-ondersteuners Clicks-winkels geplunder en aan die brand gesteek het.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê dat mense deurlopend met die werklikheid van plaasmoorde gekonfronteer word en dat hulle hul geliefdes moet troos terwyl die regering geen ag op hul smart slaan nie.

Soortgelyke plasings