Red Pretoria: 15 000 laat reeds hul stem hoor oor koalisie-geskil

Ondersteuning vir AfriForum se petisie om die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit uit die hande van ’n EFF-ANC-koalisie te hou, het sedert verlede week verdubbel en staan nou op meer as 15 000 handtekeninge. Dit volg nadat Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, Maandag dit duidelik gestel het dat die party mik om ’n nuwe koalisie in die Tshwane-metro te vorm wat “die belange van die ANC asook die mense dien”.

“Mbalula se opmerkings bevestig dat enige koalisie-vennoot wat die huidige koalisie in die metro laat verbrokkel, onbetwisbaar die kant van die ANC en sy belange kies,” sê Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum. “Dis veelseggend dat Mbalula die inwoners se belange net terloops noem, want vir hom en sy kaders is net sy party se belange ’n prioriteit,” voeg Van Zyl by.

AfriForum plaas die afgelope twee weke druk op die huidige veelpartykoalisie om so gou moontlik die geskille in die koalisie op te los, veral nadat ActionSA aangekondig het dat hy dit ernstig oorweeg om hom by die ANC en die EFF te skaar. Sou ActionSA voortgaan met dié plan sal die EFF-ANC-koalisie daarin slaag om Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, uit te stem en sodoende die veelpartykoalisie in die metro ten gronde laat gaan.

Wanneer ’n lid van die publiek AfriForum se petisie onderteken, stuur AfriForum ’n outomatiese skrywe aan die leiers van ActionSA, DA, IVP, ACDP en VF+ om die geskille in die koalisie so gou moontlik en in die belang van die metro se inwoners by te lê.

“Ons kan nie toelaat dat dit weer die Tshwane-metro se top prioriteit word om die ANC se belange te dien nie. Daar is minder as ’n week oor om die huidige veelpartykoalisie, en Pretoria se toekoms, te red. Dus sal AfriForum die druk volhou en saam met die publiek se ondersteuning verseker dat die inwoners van Pretoria se stemme gehoor word,”  sluit Van Zyl af.

Besoek www.redpretoria.co.za en voeg jou naam by die petisie om te verhoed dat die Tshwane-metro die belange van die EFF en ANC dien, eerder as die inwoners s’n.

Soortgelyke plasings