Bulldozer, mynbou
|

Regering se desperaatheid vir skaliegas stel Suid-Afrika in gevaar

Dr. Bongani Sayidini van die Petroleumagentskap van Suid-Afrika het by die onlangse Suider-Afrikaanse Olie- en Gaskonferensie in Kaapstad aangekondig dat die Kabinet binnekort genader sal word om die moratorium op skaliegas-eksplorasie op te hef.

Sayidini het die moratorium toegeskryf aan die uitkomste van litigasie in die openbare en burgerlike samelewing rondom die onwettige publisering van omgewingsregulasies deur die minister van Minerale Hulpbronne en Energie (waarvoor hy nie die wetgewende mandaat gehad het nie). Die mandaat om omgewingsregulasies te publiseer berus by die minister verantwoordelik vir omgewingsake.

“Dit is nie hoe rasionele besluitneming lyk nie,” sê Jonathan Deal van Treasure the Karoo Action Group. “Dit lyk asof die regering uitreik na enigiets wat lyk soos ’n potensiële reddingsboei te midde van sy voortdurende finansiële uitdagings, sonder om die gevolge in ag te neem. Terwyl hy aan die een kant erken dat die howe herhaaldelik ten gunste van aktiviste beslis het, insluitend oor kwessies rondom die regulasies, beweeg die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie met onbetaamlike haas na eksplorasie sonder dat die vereiste regulatoriese raamwerk en regulasies in plek is,” gaan hy voort. “Die olie- en gasbedryf se goed gedokumenteerde valse narratiewe oor die omvang van Suid-Afrika se potensiële skaliegasreserwe en die ‘ouvroustories’ van gas wat ’n ‘skoon’ fossielbrandstof is, word steeds deur die regering en sy korporatiewe makkers verkondig. Hierdie aansprake is met meer as ’n dekade verouderd, en dis ook gereeld met empiriese bewyse weerlê.”

“Verder, in ag genome die jare se moeite wat nodig is om die Strategiese Omgewingsevaluering te onderneem en te voltooi en die daaropvolgende opstel van regulasies om sleutelaanbevelings van die studie in te sluit, maak dit nie sin dat eksplorasie gehaas word nie,” sluit Deal af.

Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, stem saam. “Een van die sleutelkwessies met betrekking tot die regulasies is dat dit nog in konsepformaat is, en dat dit afgehandel moet word om te verseker dat toepaslike omgewings- en grondwatermoniteringstelsels in plek is, veral vir relevante data wat vasgelê moet word voordat daar geboor word. Hierdie vereiste strek ook tot eksplorasie,” sê hy. “Sonder basislyndata sal dit byna onmoontlik wees om kontaminasie te bewys weens booraktiwiteite in die toekoms.”

“Hierdie risiko is spesifiek uitgelig in die regering se eie Strategiese Omgewingsevaluering. Van verdere kommer is dat dit blyk dat die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie steeds die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewing, asook die Departement van Water en Sanitasie opsy skuif in sake wat ’n direkte impak op daardie departemente het,” gaan De Klerk voort.

“Ons sal ontwikkelings moniteer en daartoe verbind bly om gesonde en ingeligte besluitneming rondom die kwessie van skaliegas te verseker. Enige besluit of optrede in hierdie verband, wat ’n duidelike en vermybare risiko vir Suid-Afrika se omgewingsekonomie, openbare gesondheid en lewensbestaan inhou, sal in ’n toepaslike hof betwis word,” sluit De Klerk af.

Soortgelyke plasings