|

SAMWU moet betaal vir vullisverwydering

AfriForum maan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit om die fondse wat hulle tydens die huidige onwettige staking verloor van die South African Municipal Workers’ Union (SAMWU) te eis en nie rekeninge vir vullisverwydering aan inwoners van dié munisipaliteit te stuur vir dienste wat hulle nie ontvang nie. Die Tshwane-metro gaan tans gebuk onder swak dienslewering as gevolg van die onwettige staking wat einde Julie begin het. AfriForum is aktief besig om die probleme, wat inwoners van die groter Pretoria-gebied weens die onwettige SAMWU-staking ervaar, te help oplos.

“Byna geen vullisverwyderingsdienste word die afgelope twee maande in die Pretoria-omgewing deur die metro gelewer nie, maar daar word steeds van inwoners verwag om hiervoor te betaal. Ons verstaan dat Tshwane hierdie inkomste broodnodig het maar dit is onbillik om te verwag dat inwoners vir ’n diens moet betaal wat hulle nie ontvang nie. Die metro moet eerder SAMWU aanspreeklik hou vir die verlies aan inkomste in plaas daarvan dat rekeninge aan die inwoners gestuur word,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake.

Coetzee voer verder aan dat indien die SAPD hierdie onwettige staking nie proaktief takel nie, dit moontlik ’n presedent kan skep, wat soortgelyke ontwrigtings in ander munisipaliteite tot gevolg kan hê. “Sulke wetteloosheid bedreig nie net die oppergesag van die reg nie, maar swig ook voor ’n skelm styl van protes wat onversoenbaar is met ons grondwetlike demokrasie. AfriForum sal regstappe oorweeg indien die SAPD nie toetree om die situasie in Pretoria te beredder nie.”

“AfriForum is ook in staat om dienste te lewer daar waar dit nie tans vir die metro moontlik is nie en wil graag hierdie opsie aan hulle bied. Ons sal voortgaan om – waar ons kan – oplossings vir die krisis te bied,” sluit Coetzee af.

Soortgelyke plasings