|

Regering se skuld dat beleggers al jare uit die land vlug

Staatskuld groei steeds en ’n mens sou verwag dat die ANC-regering alles moontlik sal doen om beleggers na die land te lok. Tog word daar berig dat buitelandse beleggers oor die laaste jaar weer meer geld uit die land onttrek het as wat van hulle ingevloei het.

Volgens syfers van die Reserwebank het die netto-onttrekking van buitelandse beleggers verlede jaar $7,1 miljard beloop. Voorts word daar bereken staatskuld sal teen 2026 soveel as R6 000 miljard bereik.

Moenie dink die ANC-regering besnoei op uitgawes nie, want daar is baie waarop die regering beplan om geld aan te spandeer. Die regering beplan glo om die “tydelike” R350-toelae weer te verleng of selfs permanent te maak. So kort voor die verkiesing is dit seker nie verrassend dat die ANC sulke uitlatings maak nie.

AfriForum veg steeds om ’n stokkie te steek voor die regering se beplande R50 miljoen skenking aan Kuba. Soos met alles anders dink die regering waarskynlik wat is nog R50 miljoen? Dit is mos net ’n druppel in die emmer as jy reeds miljarde skuld. Die regering betaal jaarliks nagenoeg R300 miljard aan rente op staatskuld. Dink net wat hierdie bedrag vir die verligting van armoede of die bou van skole kan beteken.

Die regering sou ook geld op salarisse kon spaar, maar eerder as om dooie hout uit die staatswerkerskorps te sny, is daar oor die afgelope tien jaar 45 000 meer staatswerkers aangestel. Suid-Afrika het ook meer ministers as lande insluitend Duitsland, die VSA en Japan. Ongeveer ’n derde van die regering se uitgawes is om staatsamptenare se vergoeding te betaal.

Dit sou sin maak om staatskuld as prioriteit ernstig te verminder en soveel as moontlik buitelandse beleggers te lok, maar daar is te veel struikelblokke. Dink byvoorbeeld aan die hoeveelheid toeriste wat eerder ander bestemmings as Suid-Afrika kies omdat die misdaadkoers in die land hulle afskrik. En watter regdenkende buitelander sal in eiendom in Suid-Afrika belê as die ANC-regering steeds hul onteiening-sonder-vergoeding-agenda probeer afdwing.

Dit is egter die aandelemark wat skrikwekkende agteruitgang kragtens buitelandse belegging toon. Daar word al vir tien agtereenvolgende jare meer buitelandse beleggings uit die aandelemark onttrek as wat daarin belê word. Daar was in 2013 laas ’n netto groei van buitelandse belegging in die aandelemark.

Die ANC-regering se mooipraatjies en pleister plak op probleme gaan binnekort nie meer werk nie. Ongetwyfeld sal nog geld geleen word, maar uiteindelik sal die kaarthuis inmekaar stort as buitelandse belegging in die land nie toeneem nie.  

Soortgelyke plasings