|

Rustenburg-tak laat nie gras onder hulle voete groei nie

2024 het skaars begin toe die AfriForum-tak in Rustenburg hul grassnyers en randsnyers nader trek om weer te sorg dat die parke in dié dorp netjies is. Die tak het in Januarie gras gesny op die hoeke van Kerk-, Kruger- en Bultstraat, die hoek van Helen Joseph- en Bovenstraat, Cycadlaan en die Platinum-ovaalrenbaan.

Ten einde vir ’n gemeenskap om vry te kan leef is dit nodig dat hulle omgewing netjies en veilig is. Volgens Armand Viljoen. AfriForum se distrikskoördineerder vir Groot-Marico, hou parke waar die gras lank is en nie in toom gehou word nie ’n risiko vir die gemeenskap in. “As daar nie gekyk word na die algehele netheid van parke nie dan word dit uiteindelik ’n skuilplek vir verskeie kwaaddoeners. Parke moet veral veilige plekke wees waar ons kinders kan speel en die lewe kan geniet. Daarom is dit só belangrik dat hierdie tuine in stand gehou word en die gras kort bly.”

Jan van Zyl, projekleier by AfriForum se Rustenburg-tak, nooi graag die gemeenskap uit om betrokke te raak by die tak se deurlopende projekte. “Ons het baie werk wat vir ons wag, maar dit bemoedig ons dat die gemeenskap altyd bereid is om te help. Die munisipaliteit het ook drie trekkers vir ons geleen vir een deel van die projek en vanuit die gemeenskap het ons talle donasies ontvang om voort te kan gaan met die projek.”

“Die gemeenskap se deelname is werklik van onskatbare waarde en ons kan in die resultate die krag van selfdoen sien,” sluit Viljoen af.

Kontak Dawie Conradie by 082 930 9905 om betrokke te raak of besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings