|

Roofverdagtes vas ná AfriForum-buurtwag hommeltuig inspan om polisie te help

Twee verdagtes is gisteraand omstreeks 20:30 in Mount Pleasant vasgetrek nadat AfriForum se Walker Drive-buurtwag sy hommeltuig ingespan en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bygestaan het in ’n soektog na verdagtes wat met ’n roof in dié Baaise voorstad verbind is.

Die buurtwag het daarin geslaag om, met behulp van hommeltuigtegnologie, een verdagte by ’n perseel in Mount Pleasant te identifiseer. Nog ’n verdagte is kort daarna vanuit die lug bespied, waarna die SAPD se K9-eenheid die saak verder ondersoek en albei verdagtes gearresteer het.

Volgens inligting wat van die SAPD ontvang is, word die verdagtes verbind met ’n huisroof wat vroeër gisteraand in Mount Pleasant plaasgevind het. Tydens die rooftog is skote afgevuur en een verdagte is noodlottig gewond waarna die nog twee verdagtes te voet van die toneel af gevlug het.

Die polisie ondersoek nou ’n saak van huisroof.

“Die sukses van hierdie operasie sou nie moontlik gewees het sonder die samewerking van al die betrokke veiligheidsrolspelers nie. Ons is dankbaar vir elkeen wat bygedra het om die verdagtes vas te trek,” verduidelik Hannes Oosthuizen, AfriForum se Walker Drive-buurtwagleier.

“Die voorval beklemtoon die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid om die veiligheid van inwoners te verseker. Buurtwagte speel ’n deurslaggewende en aanvullende rol in die werk wat wetstoepassingsagentskappe verrig, deur nie net bykomende kundigheid en tegnologie beskikbaar te stel nie, maar om in terme van veiligheid ook die oë en ore op grondvlak te wees,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

“Die suksesvolle arrestasie van die verdagtes in Mount Pleasant is ’n bewys van die doeltreffendheid van gemeenskapsbetrokkenheid by openbare veiligheid. AfriForum se Walker Drive-buurtwag het ’n kritieke bydrae gemaak tot hierdie operasie en ons hoop dat hierdie voorval meer mense sal inspireer om betrokke te raak by hul plaaslike buurtwagte en sodoende ’n bydrae sal maak tot die vestiging van ’n veiliger gemeenskap vir almal,” sluit Van der Walt af.

Raak vandag nog betrokke by jou plaaslike buurtwag.

Soortgelyke plasings