|

Onteiening: President Ramaphosa moet wetsontwerp terugstuur na die Nasionale Vergadering, eis AfriForum

Die burgerregteorganisasie AfriForum se regspan het vandag ’n brief aan president Cyril Ramaphosa gestuur waarin versoek word dat die president die kontroversiële Onteieningswetsontwerp na die Nasionale Vergadering (NV) terugstuur vir heroorweging van die wetsontwerp se grondwetlikheid. Dit volg nadat die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) die wetsontwerp in Maart goedgekeur het, waarna dit deur ’n meerderheid in die NV goedgekeur is. Die finale besluit oor die wetsontwerp berus nou by die president se kantoor – met Ramaphosa se handtekening.

In die brief skets AfriForum se regspan die ongrondwetlikheid van die Onteieningswetsontwerp. AfriForum se versoek aan Ramaphosa is soos volg vervat in die brief:

  1. Die president word versoek om sy bevoegdhede ingevolge artikel 84(2)(b) van die Grondwet uit te oefen deur die wetsontwerp terug te verwys na die NV vir heroorweging van die grondwetlikheid daarvan.
  1. Indien die president die versoek van die hand wys, word hy versoek om volledige redes vir sy besluit te verskaf.
  1. In so ’n geval versoek AfriForum die geleentheid om verdere voorleggings aan die president se kantoor te doen alvorens hy besluit om die wetsontwerp te aanvaar en te onderteken.

Volgens Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van openbare betrekkinge, toon die historiese rekord dat AfriForum deurgaans ’n vurige teenstander was van die ongrondwetlikheid van die Onteieningswetsontwerp wat privaateiendomsreg in Suid-Afrika bedreig.

“Ons kan nie toelaat dat die regering die mag kry om net enige eiendom wat hulle wil hê, te gryp nie. Sou die president hierdie ongrondwetlike wetsontwerp onderteken, sal AfriForum die eerste organisasie wees om die regering voor die hof te daag indien die regering poog om eiendom sonder vergoeding te onteien,” sluit Van Zyl af.

AfriForum nooi sy lede en die publiek uit om aan te sluit by die stryd om die beskerming van privaateiendomsreg. Besoek www.onteiening.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings