|

Sakeondernemings van regoor die land ontvang Tinteltong Toekennings

Nege jaar gelede sou AfriForum Sakenetwerk nie kon dink dat hulle in 2024 Tinteltong Toekennings-geleenthede in verskeie provinsies sal aanbied om die meeste toekennings nog aan ondernemings te gee wat sake in Afrikaans doen. Vanjaar is ongeveer 50 ondernemings met Tinteltong Toekennings bekroon. Die Tinteltong Toekenningsgeleentheid vereer plaaslike ondernemings wat in Afrikaans sake doen en vind jaarliks in Februarie – die maand waarin Internasionale Moedertaaldag gevier word – plaas.

Vanjaar se toekennings het in streeksverband plaasgevind en die spoggeleenthede is in Potchefstroom, Pretoria, Groot-Brakrivier, Kimberley en Durbanville gehou.

Vanjaar is ongeveer 50 ondernemings met Tinteltong Toekennings bekroon.

Volgens AfriForum Sakenetwerk is die doel van die toekennings om ondernemings te beloon, maar ook om ander sakeondernemings aan te moedig om sake in hul hartstaal te doen.

“Ons beloon en bekroon ondernemings met Tinteltong Toekennings wat kreatief is in hul taal, wat goed vaar in sosiale media in Afrikaans en wat uitblink wanneer hulle Afrikaans gebruik. Dit is vir AfriForum Sakenetwerk belangrik om entrepreneurs en ondernemings te vier wat soms ten spyte van moeilike omstandighede steeds kop bo water hou,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder vir AfriForum Sakenetwerk.

Sanderien van der Walt, bestuurder vir AfriForum Sakenetwerk

Tydens die toekenningsgeleenthede het die wenners na sprekers geluister en het hulle ook die geleentheid gehad om skouers te skuur met die ander entrepreneurs en sake-eienaars. Heelwat nuwe sakebande en -geleenthede is tydens die geleenthede gevestig.

Kobus Galloway van Idees vol vrees, sê dit gaan vir hom nie so baie oor die fisiese toekenning nie, maar eerder oor die innerlike gevoel van waardering en erkenning wat hy kry en om te weet hy lewer ’n bydrae in en tot Afrikaans.

Volgens Galloway het elke onderneming sy spoedhobbels en slaggate en ook sy goeie tye, so dit is altyd lekker om te weet dat iemand jou werk raaksien, en vir jou ’n klop op die skouer gee en sê: “Ons sien wat jy doen en ons waardeer dit,” sê Galloway.

Carla Lang en Carmen Roux is die twee dinamiese vroue van KoueKoffieBoeke. Die onderneming het dit in Afrikaans aangepak omdat dié taal hulle moedertaal en tuiste is. “Alhoewel ons albei in ’n ander rigting studeer het, klop ons harte vir Afrikaans, boeke en kinders. Juis daarom het ons ons hele onderneming daar rondom gebou,” sê hulle.

Volgens Lang en Roux is die netwerkgeleenthede wat hierdie toekennings vir hulle bied van baie waarde. “Ons onderneming is in sy eerste bestaansjaar en ons kan by elke ander sake-eienaar iets leer en verder groei.”

* Kyk die Forum Nuus-video oor die Tinteltong Toekennings wat in Potchefstroom en Pretoria plaasgevind het, hier.

Soortgelyke plasings