|

Sasolburg-tak maak 2022 ’n rekordjaar

Die AfriForum-tak in Sasolburg, wat bekend is vir al die gras wat hulle sny om die dorp netjies te hou, het in 2022 hulle eie vorige rekords verbreek wat grassny betref. Dié tak het in 2021 103 ha gras gesny en in 2022 het hulle dit verdubbel deur 256 ha gras te sny. Benewens die sypaadjies en groenstroke waar gras gesny is het die AfriForum-lede in die gemeenskap ’n punt daarvan gemaak om elkeen in hul eie omgewing die gras te sny.

Die tak het ook ’n nuwe grassnyer aangekoop wat sowat 4 ha gras in minder as 10 ure kan sny.   Hierdie grassnyer is ook geskik om die gras by die Hoёveldse Tuine te sny – hierdie park gaan deurlopend deur die tak netjies gehou word. Die tak hierdie park verlede jaar skoongemaak, die gras gesny en die lapa en badkamers opgeknap. Daar is reeds twee suksesvolle markdae in die tuine gehou en dit is ook lekker om te sien dat inwoners nou weer met hulle honde daar kan gaan stap en as gesin ook die tuine kan geniet.

Hierdie tak sny egter nie net gras nie, maar het ook slaggate gevul, straatligte herstel, brande geblus, skoongemaak op verskeie plekke, bome netjies gesny en die kinders van die onderskeie kinderhuise bederf.  

Wat ons waardeer van hierdie tak is dat hulle nie net wag dat iets moet gebeur nie, hulle laat dit gebeur., Hoewel daar heelwat onkostes aangegaan is om hierdie deurlopende askies te dryf, kan hulle met trots sê dat hulle ’n reuseverskil in die gemeenskap gemaak het. As ek so na hulle planne vir 2023 luister, glo ek dit gaan ook ’n baie goeie jaar vir die tak wees,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek.

Volgens Johan Cooks, takvoorsitter van Sasolburg, was 2022 ’n groot jaar vir hierdie tak.  “Ons het die hoeveeheid gras wat gesny word per jaar, meer as verdubbel teenoor die vorige jaar. Hierdie sukses is te danke aan die AfriForum-gemeenskap wat eienaarskap gevat het van hulle omgewings. Hierdie help nie net dat ons omgewing mooi lyk nie maar dit help dat die boosdoeners nie meer so maklik kan wegkruip nie. Ons is ook opgewonde oor die volgende mark wat op 4 Februarie in die Hoëveldse Tuine aangebied gaan word – dit is ons Valentynsmark. Hou asseblief ons sosiale media dop, daar gaan nog groot goed gebeur in die Tuine hierdie jaar,”  het Cooks afgesluit.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Sasolburg” na 45344 (R1). Persone wat spesifiek by die Hoëveldse Tuine-projek betrokke wil raak kan Johan kontak by 083 230 9073.

Soortgelyke plasings