|

Senzo Meyiwa: Privaatvervolgingseenheid bekommerd dat saak nóg verder vertraag gaan word ná onlangse verwikkelinge

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wat tans ’n waaksaamheidsopdrag namens Ntombifuthi Meyiwa, asook Zama en Nomalanga Meyiwa (onderskeidelik die ma en susters van die voormalige Bafana-Bafana-kaptein Senzo Meyiwa) het in die strafsaak na Senzo se moord, het hul kommer uitgespreek dat die saak, wat reeds byna agt jaar sloer, nou verder vertraag kan word. Dit volg nadat vier van die vyf beskuldigdes op 17 Maart ’n nuwe advokaat, Malesela Teffo, aangestel het. Dieselfde advokaat het egter ook ’n waaksaamheidsopdrag in die saak namens Sifiso Meyiwa, Senzo se broer.

Muzikawukhulelwa Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube en Mthokoziseni Maphisa wat aangekla word van moord, poging tot moord, gewapende roof, die besit van vuurwapens sonder ’n lisensie en die besit van ammunisie, het gister tydens die voorverhoorverrigtinge aangedui dat hulle van regsverteenwoordiger verander het en dat adv. Teffo hulle nou verteenwoordig. Hy het ook aangedui dat die vier beskuldigdes ’n spesiale pleit gaan opper.

“Die privaatvervolgingseenheid is daarmee getaak om namens Senzo se ma en susters toe te sien dat geregtigheid geskied en ons sal voortgaan om dit te doen. Dit is wel vir ons vreemd dat dieselfde regsverteenwoordiger wat namens ’n familielid van die slagoffer optree, nou ook van die beskuldigdes verdedig. Ons stem saam met die staatsadvokaat, George Baloi, dat daar waarskynlik ’n botsing van belange is en ons grootste bekommernis is dat die skielike verandering van verteenwoordiging die saak waarskynlik nog verder sal vertraag,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings