|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

Terwyl AfriForum-takke en –buurtwagte vandeesweek gehelp het om hul gemeenskappe te beveilig en by verskeie skoonmaak- en slaggataksies betrokke was, het die organisasie ook onverpoosd vir geregtigheid in die howe geveg.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid was in die landdroshof in Tembisa waar die vermeende moordenaars van die oud-Recce Terence Tegg verskyn het. Dié eenheid staan Tegg en J.J. Casanga se families by. Tegg is in Februarie tydens ’n gewelddadige betoging by die Clover-aanleg in Midrand vermoor en Casanga, ’n veiligheidswag, het ernstige beserings opgedoen.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan die families van Terence Tegg en J.J. Casanga by in die saak teen hul vermeende aanvallers.

Die burgerregtewaghond was ook in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria om ’n dringende interdik teen die regering te kry om hulle te stuit om R50 miljoen aan Kuba te skenk.

AfriForum is van mening dat dié geld veel beter plaaslik aangewend kon word waar soveel Suid-Afrikaners in nood verkeer in plaas daarvan om dit aan die ANC se ideologiese trawante in Kuba te gee. Uitspraak in die saak is voorbehou.

Plaaslik het die AfriForum-tak in Lichtenburg, in samewerking met die NWK-landboumaatskappy, tientalle slaggate in die dorp herstel. Sedert die tak hul volhoubare slaggatprojek in Maart verlede jaar begin het, is reeds meer as 150 ton teer gebruik om gate te vul.

In Bethal het die tak ’n skoonmaakprojek by die Nestlé-brug voortgesit. Die projek poog om die algehele netheid en voorkoms van die brug en omliggende area te verbeter. Hiervoor het die tak ook nuwe bosskiekappers aangeskaf. Die tak het ook 200 sakkies teer gebruik om slaggate te herstel.

In Bethal is 200 sakkies teer gebruik om slaggate te herstel.

In Witbank is verskeie padtekens rondom die Laerskool Taalfees en die Robert Carruthers School oorgeverf om die gebied beter te beveilig. Die spoedhobbels en voetoorgange was nie meer duidelik sigbaar nie.

AfriForum se Groter-Moot-buurtwag het ook ’n deurbraak gemaak en verskeie gesteelde goedere, waaronder nuwe gereedskap, tydens ’n sigbaarheidspatrollie onder bosse by die spruit teruggevind. In ’n ander voorval is twee inbrekers ook aangekeer en aan die polisie oorhandig.

AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling het vandeesweek ook die Tshwane Metropolisiediens (TMPD) tydens gewelddadige betogings bygestaan. Grandi Theunissen, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Tshwane, het AfriForum genader en versoek dat die organisasie se lugvleuel sy hommeltuie ontplooi om inligting te verskaf oor betogers se ligging en aktiwiteite. Munisipale werkers het oor ’n loongeskil gestaak.

In die Noord-Kaap is Kimberley se Konsentrasiekampmonument beveilig met lemmetjiesdraad wat aan die heining aangebring is. Die monument is ’n slaapplek vir haweloses en loop gereeld onder vandalisme deur.

Die Konsentrasiekampmonument in Kimberley is met lemmetjiesdraad beveilig.

Soortgelyke plasings