|

Skaliegas: Haas onmoontlik vir Suid-Afrika

Tydens ’n media-inligtingsessie deur die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewing op 22 November oor die uitkomste van COP 27, het die minister van Bosbou, Visserye en Omgewing, Barbara Creecy, verklaar dat Suid-Afrika gas as ’n brandstofalternatief op die pad na ’n lae-koolstof-ekonomie kan beskou.

“Die olie- en gasbedryf het ’n pertinente rol gespeel in die skep van die narratief rondom gas as ’n “brandstofalternatief” of ’n “oorgangsenergiebron” na ’n lae-koolstof-toekoms, om die afhanklikheid van fossielbrandstowwe te verleng. Dit vertraag nie net die aanvaarding van hernubare energie op groot skaal en sluit die ekonomie in verdere afhanklikheid van fossielbrandstof nie, maar die ironie is dat minister Creecy se opmerkings gemaak is teen die agtergrond van COP 27 en die gesprekke rondom belegging in skoon energie vir Suid-Afrika om teen 2050 na ’n netto-nul-koolstofekonomie oor te skakel,” sê Jonathan Deal, uitvoerende hoof van die Treasure Karoo Action Group (TKAG).

“In ’n tyd waarin die omgewings- en gesondheidsimpak van fossielbrandstofontginning deeglik bewus van is, is dit onverantwoordelik vir die regering om die eksplorasie en ontginning van bykomende fossielbrandstofreserwes na te jaag – veral aangesien ons weet dat steenkool deel van ons energiemengsel in die afsienbare toekoms is,” voeg Lambert de Klerk, AfriForum se hoof van Omgewingsake, by.

TKAG en AfriForum glo dat die fundamentele motivering vir die Suid-Afrikaanse regering om skaliegas na te jaag, gebaseer is op die verkeerde aannames van ’n oorvloed van energie, werksgeleenthede, inkomste en dat gas ’n skoner brandende brandstof as steenkool is.

Binne hierdie konteks word die kwessie van skaliegasontginning in Suid-Afrika dan gereduseer tot hierdie kwessies:

  • Die gasbedryf het gereeld en grootliks die potensiële gasreserwes, werksgeleenthede en ekonomiese voordele vir Suid-Afrika oorskat. Dit het spekulasie gestimuleer en valse idees van rykdom en ’n oorvloed werksgeleenthede aangemoedig. Werksgeleenthede is tipies hoogs tegnies en word aan internasionale kontrakteurs toegeken, soos ons in ander streke gesien het.
  • Sodra boor en breking voltooi is, verminder die aktiwiteit aansienlik en die gasboorblok word deur slegs ’n paar bekwame personeel bestuur. Plattelandse dorpe sal gelos word om te ly onder die gesondheids-, omgewings- en sosio-ekonomiese euwels wat gepaard gaan met die kringloop van bloei en ineenstorting van die ontginningsbedrywighede, waarvan die langtermynkoste deur die belastingbetaler gedra sal word met die waarskynlikheid dat die negatiewe impakte onomkeerbaar sou wees.
  • Selfs in lande waar korrupsie nie hoogty vier soos in Suid-Afrika nie, het die mynbedryf ’n slegte reputasie. Die burgerlike samelewing sal waaksaam moet bly oor fossielbrandstofprojekte.
  • Regulasies vir onkonvensionele gaseksplorasie en -ontginning is nog nie gefinaliseer nie en basislynstudies is ook nie uitgevoer, soos gespesifiseer in die Strategiese Omgewingsevaluering (SEA), nie.
  • Die sekerheid van omgewingskade, openbare gesondheidsimpak en agteruitgang van landbougrond kan nie afgemaak word nie. Suid-Afrika het ’n nalatenskap van omgewingskade weens die mynbedryf, met die blywende ​​onvermoë en gebrek aan kapasiteit van die departemente wat verantwoordelik is vir minerale, omgewing en water om voldoening aan die omgewingsvereistes in die mynbousektor te verseker.
  • Water is waarskynlik tans een van die grootste uitdagings in Suid-Afrika en die voorstanders van hidrobreking in Suid-Afrika maak die uitdagings rondom die vind van water om te gebruik vir breking en die wegdoening van tienmiljoene liters besoedelde water per enkele boorplek as onbelangrik af.
  • Selfs al word gas opgespoor, moet dit ontgin, geberg, verfyn en vervoer word na ’n plek waar Suid-Afrika in ’n posisie sal wees om dit vir elektrisiteitsopwekking te benut, wat met Eskom in sy huidige toestand hoogs problematies lyk.
  • Die tegniese aspekte om gas te vind, dit te ontgin sonder om water, lug en gewasse te besoedel en die vlugtige materiaal deur pyplyne, of op Suid-Afrikaanse paaie of spoorweë te beweeg, is haas onmoontlik vir ’n regering wat nie die lewering van selfs die mees basiese dienste kan bestuur nie. Baie van die fundamentele vrae rondom die haalbaarheid, veiligheid, infrastruktuur en praktiese aspekte van hidrobreking-bedrywighede is nog nie beantwoord nie.

“Binne die konteks van hierdie kwessies blyk die spook van aardverwarming, hoewel dit van enorme belang is, op hierdie tydstip van sekondêre belang vir Suid-Afrika te wees. Die nadeel daarvan om hierdie aktiwiteit toe te laat om nou te begin, sal binne maande ervaar word deur die gemeenskappe wat daarmee sal moet saamleef,” het Deal en De Klerk afgesluit.

Soortgelyke plasings