|

Valke se onbekwaamheid of politieke oorwegings vertraag vervolging van ANC-sekretaris-generaal Fikile Mbalula

Die opkoms van Fikile Mbalula tot een van die hoogste posisies in die ANC kan verklaar waarom die Valke versuim om sy ondersoek af te handel en te verseker dat hy strafregtelik vervolg word. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het dít duidelik gemaak in nog ’n brief aan senior wetstoepassingstrukture – hierdie keer aan die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola.

Die strafregtelike klag teen Mbalula spruit uit ’n 2018 Openbare Beskermer-verslag oor die destydse minister van Sport se gesinsvakansie na Dubai, wat die saak na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys het “om te ondersoek of die fondse wat gebruik is om vir die reis te betaal nie die opbrengs van geldwassery was nie”. Alles dui daarop dat die NVG hierdie opdrag eenvoudig geïgnoreer het.

In Augustus 2019 het Monique Taute, hoof van Veldtogte by AfriForum, die strafregtelike klag ingedien. Sedertdien is die saak heen en weer tussen die polisie en die NVG gestuur, wat mekaar blameer vir vertragings met die afhandeling van die saak.

Die bewerings teen Mbalula is eenvoudig en ongekompliseerd. Dit behels dat die Dockrat-familie, deur middel van gekoppelde maatskappye, na bewering vir die politikus se vakansie betaal het – ’n enkele transaksie met ’n reisagent sonder enige ingewikkelde forensiese ontleding van finansiële rekords en bankstate wat vereis word.

Die eenheid sit in fynere besonderhede die tydlyn van gebeure en talle briewe aan die owerhede uiteen om enige betekenisvolle terugvoer oor die vordering van die ondersoek te probeer kry.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid, skryf in die jongste brief dié land is ten volle bewus van die verwikkelinge in die Zondo-kommissie oor staatskaping en die vinnige ingrypings wat gelei het tot die arrestasie en verskyning in die hof van sekere individue, insluitend ANC-politici en senior staatsamptenare, op baie komplekse aanklagte wat wissel van geldwassery en rampokkery.

“Vreemd genoeg bly mnr. Fikile Mbalula se saak ’n enkele transaksie, ongekompliseerd, maar bo die vermoë van wetstoepassing om af te handel. Soos die vertraging voortduur, het die rede hiervoor wat ons voorlê duideliker geword as mens net die onlangse bevorderings in mnr. Mbalula se politieke loopbaan in ag neem.

“Ons voer met respek aan dat mnr. Mbalula se politieke opkoms ’n onbetwisbare besef is dat hy buite die bereik van die SAPD is. Sy inverse behandeling deur wetstoepassers moet wees omdat hy ‘polities beskut’ is, anders as ander burgers van die Republiek. Die historiese verskonings, insluitend die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging wat die Valke blameer en tevrede is dat die Valke-ondersoekspan die vertraging veroorsaak het, is onaanvaarbaar en betreurenswaardig,” het Nel gesê.

Die privaatvervolgingseenheid herhaal dat die versuim om die saak te ondersoek duidelik aandui dat óf die Valke onbekwaam is om korrupsie aan te pak óf die verdagte, Mbalula, word op een of ander manier bevoordeel met onverdiende beskerming deur staatsinstellings.

Soortgelyke plasings