Sukses: AfriForum wen kostes in saak teen regering se Covid-19-ramptoestand

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n kostebevel in die Hooggeregshof in Pretoria gewen vir regsaksie wat die organisasie in 2022 teen die verlenging van die regering se nasionale ramptoestand geloods het. AfriForum het in Februarie 2022 hofstukke beteken waarin die Hooggeregshof versoek is om die ramptoestand as ongeldig en onregmatig te verklaar. Ondanks die organisasie se naderende regsaksie, het die regering op 15 Maart 2022 die ramptoestand vir ’n verdere maand verleng.

Tog het die regering gou weer van plan verander en op 4 April 2022 die nasionale ramptoestand opgeskort. Hierdie opskorting was egter grootliks oëverblindery, omdat baie van die Covid-19-regulasies wat tydens die ramptoestand afgevaardig is, steeds daarna in plek gebly het. Ná ’n oorgangsperiode sou die regering se wysigings aan die Nasionale Gesondheidswet, wat in Maart 2022 aangekondig is, in werking tree. Hierdie wysigings sou beteken het die dat meeste van die Covid-19-regulasies permanent in die Gesondheidswet ingeskryf sou word.

AfriForum het ook op 9 Mei 2022 regsaksie teen hierdie wysigings van regulasies van die Nasionale Gesondheidswet geneem en die regering is gedwing om dié regulasies ook te skrap. Verder het AfriForum in ’n skrywe aan die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA) kostes geëis vir die regsaksie wat dit teen die ramptoestand geloods het. AfriForum argumenteer dat die regering as gevolg van die organisasie se naderende regsaksie die ramptoestand beëindig het. COGTA is uiteindelik deur die Hooggeregshof op 24 Maart 2023 beveel om kostes te betaal.

“AfriForum het gedurende die hele staat van inperking tydens Covid-19 met vele suksesse sterk teen die regering se magsvergrype en wrede beleide baklei. Die ramptoestandsaak was net een van vele sake wat AfriForum in belang van sy lede en die breër publiek geloods en gewen het. Dit is danksy ons en ander burgerregteorganisasies se volgehoue druk dat die regering die ramptoestand uiteindelik afgeskaf het – die kostebevel in AfriForum se guns bevestig dit,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Soortgelyke plasings