|

Skoksyfers wys SAPD moet handevat met AfriForum-buurtwagte en ander teen misdaad

Nóú is die tyd vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om met AfriForum-buurtwagte en ander veiligheidsinstansies saam te werk om misdaad te bekamp, sê AfriForum. Die tekort van 8 500 speurders in die SAPD is ook ’n duidelike bewys dat gemeenskappe se grootste kans om misdaad te voorkom, is om self by hul plaaslike veiligheidstrukture betrokke te raak.

Senzo Mchunu, die minister van Polisie, het dié skokkende syfer in ’n parlementêre antwoord onthul. Volgens hom het 527 speurders die SAPD tussen 1 Oktober 2023 en 19 Julie 2024 verlaat. Verder het die SAPD sedert 2018 ongeveer 80 000 moord- en meer as 61 000 verkragtingsake gesluit, omdat dit nie opgelos kon word nie.

Bheki Cele, die voormalige minister van Polisie, het ook vroeër vanjaar onthul dat meer as 5,4 miljoen dossiere sedert die 2018/2019-boekjaar as onopgelos gesluit is weens onvoldoende bewyse en leidrade.

“Dit is uiters kommerwekkend dat die polisie se vermoë om misdade te ondersoek en op te los, drasties verswak het. Gemeenskappe het geen ander keuse as om ’n aktiewe rol in hul veiligheid te begin speel nie. Ons vertrou dat die nuwe minister van Polisie die uitdagings in die SAPD ernstig sal opneem maar ongelukkig het die verval in die SAPD al so ver uitgekring dat dit jare sal neem om die diens reg te ruk,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“In hierdie stadium is die enigste werkbare oplossing dat die SAPD hande moet vat met goed georganiseerde en opgeleide gemeenskapstrukture – soos AfriForum-buurtwagte en die privaatsekerheidsbedryf – en saamwerk om misdaad te bekamp. Gemeenskapslede het gereeld toegang tot inligting wat die SAPD nie noodwendig het nie en nouer samewerking kan beslis help om sake op te los en die skuldiges vas te trek,” sluit Broodryk af.

AfriForum-buurtwagte help die SAPD gereeld tydens operasies deur ondersteuning te bied deur goed opgeleide mannekrag en tegnologie soos hommeltuie.

Sluit aan by jou naaste AfriForum-buurtwag by www.afriforumbuurtwag.co.za.

Soortgelyke plasings