|

AFRIFORUM SE MPUMALANGA-BUURTWAGTE NEEM DEEL AAN NASIONALE PATROLLIE

AfriForum se buurtwagte in Mpumalanga het op 12 Maart 2021 aan AfriForum se nasionale patrollie deelgeneem. Dié massapatrollie vorm deel van die amptelike aktivering van AfriForum se buurtwagaktiwiteite wat onder vlak 1 van die inperking weer hervat is.

Sowat 251 AfriForum-lede en 397 ander veiligheidsrolspelers het aan die patrollie deelgeneem. Die patrollie is uitgevoer met 388 voertuie en ’n totaal van 43 430 km is afgelê. Tydens die patrollie is 14 insidente suksesvol hanteer.

Die ander instansies wat deelgeneem het is onder meer privaat buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye, gemeenskappolisiëringsforums, insleepdienste, polisiestasies, plaaslike ondernemings, paramediese dienste en verkeersafdelings.

Die doel van die nasionale patrollie was om gemeenskappe teen misdaad te mobiliseer. Verder is die oogmerk om hoë sigbaarheid en samewerking tussen veiligheidsrolspelers te verbeter op ’n nasionale vlak, sowel as op plaaslike vlak.

“Met misdaad wat drasties toeneem in hierdie tydperk is dit van kardinale belang dat die staat besef dat hulle nie misdaad op hulle eie kan beveg nie. Die lae misdaadstatistiek wat tydens die nasionale patrollie aangeteken is, dui duidelik daarop dat hierdie soort aksies ’n verskil maak. AfriForum-buurtwagte dien as die oë en ore vir die polisie en voer alle patrollies en projekte uit volgens voorgeskrewe riglyne en ook binne die raamwerk van die wet,” sê Bronwen Pretorius, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Mpumalanga.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1 per SMS)..

Soortgelyke plasings