|

Skoleplasings: Gautengse Onderwysdepartement moet soortgelyke geskarrel in 2025 voorkom

AfriForum het in ’n skrywe aan die Gautengse Onderwysdepartement gevra vir inligting oor stappe wat gedoen word om die huidige geskarrel met die plasing van leerders in 2025 te voorkom.

Ten spyte daarvan dat die aanlyn aansoekproses sogenaamd in Gauteng geloods is om te verseker dat alle aansoekers betyds in graad 1 en 8 geplaas word, is daar jaarliks duisende kinders wat eers ná heraansoeke, appèlprosesse en laat plasings skole vind.

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, is vanjaar geen uitsondering nie. Onder meer word skole gevra om elk nog vyf leerders te akkommodeer, of  tydelike klaskamers word opgerig. Skole word inderhaas geskep in Pretoria en  Kemptonpark, met groot uitdagings wat aan die infrastruktuur van woonbuurte gestel word omdat dit nie vir die hoëdruk skoolverkeer geskik is nie. Verder word beplan om graad agts op laerskoolterreine te akkommodeer weens onvoldoende ruimte by hoërskole. Al hierdie stappe getuig van die departement se swak beplanning wat in die dienstyd van Panyaza Lesufi as LUR vir Onderwys begin het, en nou deur sy opvolger voortgesit word.

AfriForum wil spesifiek weet wat gedoen word om:

  • wanfunksionele skole se prestasie te verbeter ten einde die druk op funksionele skole te verminder;
  • meer skole te bou;
  • die jaarlikse provinsiale onderwysbegroting beter te bestuur sodat die bedrag wat vir die skep van infrastruktuur vir skole toegewys is, ten volle daarvoor  spandeer word;
  • die vervanging van tydelike klaskamers te prioritiseer;
  • te verseker dat skole in omgewings gebou word waar die infrastruktuur die aanvullende verkeer en ander dienstebehoeftes kan hanteer; en
  • te heroorweeg dat skole die plasings kan hanteer om maandelange tydvermorsing met onderhandelings oor plasings uit te skakel.

“Dit is onaanvaarbaar dat skole, ouers en kinders die spanning en druk wat met laat plasings vir graad 1 en 8 gepaard gaan, moet hanteer en oplossings moet vind, terwyl dit die oneffektiewe beplanning en bestuur van die provinsiale departement is wat dit veroorsaak,” verklaar Bailey.

Soortgelyke plasings