|

Só woeker die AfriForum-takke en -buurtwagte in 2023

AfriForum se meer as 160 takke en buurtwagte regoor Suid-Afrika het vanjaar behoorlik skouer aan die wiel gesit om staatsverval te stuit deur selfdoenprojekte, hofsake en volhoubare projekte. Die buurtwagte het reusesuksesse behaal en heelwat verdagtes is aangekeer danksy hierdie lede se optrede en goeie samewerking met ander veiligheidsrolspelers. Hier volg enkele hoogtepunte van takke en buurtwagte vir 2023.

Nadat werkers van die Tshwane-metro gestaak het, het die Moreletapark-tak in Pretoria nagenoeg R90 000 bestee om die vullis van 2 000 huishoudings te verwyder. Die tak in Garsfontein het ook ingespring en 1 000 asblikke se vullis is in Augustus tydens dié staking verwyder.

Die Noord van die berg-tak (Pretoria) het 13 800 swart sakke vol vullis verwyder, 65 ha se gras gesny en 203 slaggate opgevul.

Die Groter Moot-tak het 578 sakke vullis verwyder, 13 stormwaterkanale skoongemaak, 738 man-ure lank met bossiekappers gewerk en 11 man-ure met kettingsae. Ses verf projekte is van stapel gestuur en 104 sakke teer is gebruik om slaggate te vul.

Die tak in Centurion was oudergewoonte hard aan die werk. Hulle het ook gedurende die staking in die Tshwane-metro gehelp om vullis te verwyder en 1 000 huise se asblikke is leeggemaak teen ongeveer R35 000. Verder is 634 902 km2 se gras gesny, 98 499 kg herwinde items is gesorteer en verkoop terwyl 33 staalherwinningshokke opgerig is. 1 970 geel vullissakke is weggegooi, 15 sementasblikke is in parke geplaas en hulle het 100 sakkies teer (25 kg elk) gebruik om slaggate te vul.

Die tak in Benoni het ’n omgewingsbewusmakingsdag by die Homesteaddam gehou waartydens die sowat 250 mense slaggate gevul het en die area skoongemaak het. Die tak het verder skoonmaakprojekte by parke gehou en bome verwyder wat ná storms die paaie versper het. In Junie is meer as 240 slaggate met sowat 8,5 ton teer gevul.

AfriForum se Fochville-tak het in Julie in samewerking met die gemeenskap vyf substasies en 25 minisubstasies beveilig om te keer dat die infrastruktuur gevandaliseer word.

Die Midvaal-buurtwag het in Oktober deelgeneem aan die polisie se Operasie Shanela waartydens 400 voertuie en byna 700 mense deursoek is. 30 boetes is uitgereik en 35 onwettige immigrante is gearresteer. Dié buurtwag en AfriForum se Roodepoort-tak het in November ’n groot veiligheidsaksie in Midvaal gehou om inligting te bekom oor skaapdiewe wat al meer as 500 skape gesteel het.

Die Krugersdorp-tak het saam met die plaaslike brandweer die brandkrane in Krugersdorp na gegaan en weer duidelik sigbaar geverf.

Die Bethal-tak het, soos die afgelope ses jaar, weer meer as 2 000 sakke teer gebruik om dié dorp se paaie te verbeter. Hierdie tak se groentetuinprojek het ook meer as twee ton groente aan die gemeenskap geskenk.

In Standerton het die tak en buurtwag in samewerking met Janson- en Kasselman Sekuriteit ses substasies beveilig deur alarms te installeer. Die buurtwag het verskeie mense gehelp tydens die vloede vroeër die jaar en mense is met behulp van bote van dakke en uit afgeleë areas gered.

Die AfriForum-buurtwag in Delmas het minstens vyf arrestasies per maand uitgevoer vir onder meer diefstal, gewapende roof en ander misdade. Meer as R50 000 se dwelms is deur die jaar in verskeie aksies saam met die plaaslike polisie gevind. Dié buurtwag het ook ’n moordverdagte gearresteer wat na bewering ’n polisielid van KwaZulu-Natal vermoor het.

Die Nelspruit-buurtwag het nog ’n LPR-kamera opgerig om met misdaadbekamping te help. Die tak in Lydenburg het ’n bakkiesakkie aangeskaf wat baie gaan help wanneer brande geblus moet word.

In Machadodorp is ’n nooddienskamer opgerig en die tak het ook waarskuwingsborde oor die toestand van die pad by Skurwebergpas opgerig.

Die Potgietersrus-buurtwag in Mokopane het in Oktober gehelp om sewe plaasaanvallers vas te trek. In Mookgophong het die Naboomspruit-tak die hele dorp se stoptekens op die pad weer duidelik sigbaar geverf en die beskadigde stopborde herstel. Die Warmbad-tak het heel jaar ’n parkie skoongemaak en die gras gesny.

Water is op baie plekke in die land ’n probleem en die tak in Thabazimbi het gehelp om die watertoevoer na die dorp te herstel toe die oneweredige verspreiding van water drukking veroorsaak het en tot gevolg gehad het dat ’n seël gebars het. Dié tak wat in 2023 gestig is, het ook heelwat slaggate opgevul.

Die Vryburg-tak het 63 koringstrooibale aan boere in die omgewing geskenk ná verwoestende veldbrande meer as 200 000 ha se weiding afgebrand het. Die tak het die konsentrasiekampterrein aangeneem en onderneem om die area te onderhou. Hulle het verder ’n volhoubare projek onderneem deur leë erwe en sypaadjies skoon te maak Die buurtwag in dié dorp het hulp aan die polisie verleen toe die polisie ’n verdagte voertuig afgetrek het. Beslag is gelê op 30 bondels koperdraad en die ongelisensieerde voertuig.

Die Potchefstroom-tak het 214 m2 se slaggate met 900 sakkies teer gevul. Hierdie projek het die tak sowat R106 379 gekos. Die buurtwag het vir 2023 gemiddeld 1 472 patrollies met ’n gemiddeld van 192 patrollielede gery.

Die Klerksdorp-tak het ’n oorwinning in die hof behaal toe hulle die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit in die hof gepak het oor die rioolwerke nie werk nie. Die hof het bevind die munisipaliteit moet die rioolwerke op peil bring.

In Sasolburg het dié tak, wat bekend is vir groot hoeveelheid gras wat gesny word, van Januarie tot November 239 ha se gras gesny. Die tak het ook elke laaste Saterdag van die maand suksesvolle markte by die Hoëveldse Tuine aangebied nadat hulle dié tuine in stand hou.

AfriForum se Lichtenburg-tak het al sedert 2021 saam met plaaslike ondernemings die dorp se slegte paaie begin verbeter. Ongeveer 260 ton teer is van 2021 tot op hede gebruik om ongeveer 2 770 m2 se slaggate te herstel.

Verskeie volhoubare projekte is in Bloemfontein aangepak waaronder die skoonmaak van die ou Presidensie se tuin, die Pres. Brand-begraafplaas en die Brits-monument. Die onderskeie AfriForum-buurtwagte in Bloemfontein het heelwat verdagtes aangekeer en vermoedelik gesteelde goedere teruggevind. Hierdie aktiewe buurtwagte het ook hulp verleen op ongelukstonele. AfriForum lewer al vir geruime tyd vullisverwyderingsdienste aan inwoners van die Rosestad en ’n memorandum is aan die Manguang Metro oorhandig om inwoners wat van privaat vullisverwyderingsdienste gebruik maak, kwytgeskeld kan word om vir dié munisipale diens te betaal.

In Kaapstad-Noord het die Bellville-buurtwag verskeie suksesse behaal. Nadat ’n buurtwaglid ’n verdagte voertuig opgemerk en ’n foto van die voertuig op groepe geplaas het, is daar vasgestel dat dit ’n gesteelde voertuig is. Die polisie is gekontak en die eienaar kon bewys lewer dat dit sy voertuig is. Die buurtwag het ook op ’n noodroep oor ’n inbraak gereageer. Die drie verdagtes is aangekeer en gesteelde items is ook teruggevind.

Die Weskus-tak het in April kos, klere en matrasse ter waarde van R10 000 na Citrusdal gestuur na erge oorstromings en vloede. Hierdie tak het ook ’n 2 km-staproete ontwikkel waar stappers na al die blomme en plante wat uniek is aan die Weskus kan kyk tydens die stap.

In Kraaifontein is volhoubare skoonmaakprojekte aangepak en parkies en die ingange na die gebied is skoongemaak.

Die polisie het die Matzikama-tak se protospan se hulp versoek om verdagtes wat ’n gewapende roof uitgevoer het, aan te keer. Die protospan het ook hul hommeltuig ingespan.

In September het die Strand-tak en Strand Patrol-buurtwag in samewerking met die polisie, Fidelity ADT, AM Security en Vetus Schola 20 arrestasies uitgevoer.

Die Overstrand-tak het drie 5 000 liter watertenks geskenk en opgerig sodat inwoners toegang tot water het ná stormweer die watertoevoer beskadig het. Die Alfa-buurtwag, wat deel is van die Overstrand-tak, het gereageer op plaasaanvalle en die slagoffers met traumaberading ondersteun.

In Worcester het ’n AfriForum-buurtwaglid ’n aanval afgeweer en ’n arrestasie uitgevoer nadat die verdagte ’n vuurwapen op die buurtwaglid gerig en hom vermoedelik probeer kaap het.

AfriForum se Hessekwa-plaaswagte het plantsmokkelaars vasgetrek en aan die polisie oorhandig.

Sowat 30 vroue het die AfriForum-tak in George se jeugvleuel se selfverdedigingopleiding bygewoon. Tydens ’n uitreik saam met SA For Hope het die jeug in George kos, water en veevoer aan boere in die droogte-geteisterde Oos-Kaap uitgedeel.

Die AfriForum-takke in die Suid-Kaap het gesamentlik 66 bome geplant tydens boomplantmaand.

Die Walker Drive-buurtwag in Gqeberha is uiters aktief en het heelwat verdagtes gearresteer of hulp aan gemeenskapslede verleen. Die buurtwag het ook hul hommeltuig vir verskeie aksies ingespan onder meer om ondersteuning te bied aan die polisie op die N2. Die buurtwag het ook verdagtes in ’n straat in Rowallanpark voorgekeer en gesteelde goedere by hulle gevind. Hierdie goedere het die buurtwag na ’n huis gelei waarna die polisie ontbied is. ’n Man se liggaam is in die huis ontdek en die polisie het die oorsaak van sy dood ondersoek.

Soortgelyke plasings