|

Solidariteit gereed vir NGV hofstryd saam met ander rolspelers

Verskeie politieke partye en ander belanghebbendes het Solidariteit se Krisisberaad oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) bygewoon en was dit eens dat NGV onwerkbaar en onbekostigbaar is en enduit beveg moet word.

Solidariteit het reeds die proses begin om NGV in die hof te beveg en het tydens die beraad ’n plan binne die raamwerk van die grondwet uiteengesit om die Grondwet Hof te nader om dié stuk wetgewing as ongrondwetlik te verklaar en te laat uitgooi.

“NGV gaan eenvoudig nie werk nie en ons het net twee keuses naamlik om te wag tot die gesondheidstelsel self inplof of ons kan seker maak dat NGV in die eerste plek nooit ingestel word nie. Ons voorsien dat hierdie die grootste hofsaak sedert 1994 sal word, maar ook dat ons ’n sterk saak het en sal wen,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Volgens die vakbond se regsverteenwoordiger Greta Engelbrecht is een van die grootste uitdagings van die NGV die finansiering daarvan. Dit moet onder meer deur ’n ekstra stuk wetgewing onderskryf word wat voorsiening sal maak vir die finansiering van NGV. Hierdie wetgewing is nog nie in plek nie en is een van die redes hoekom pres. Cyril Ramaphosa die wet aangekondig het, maar nog nie gepromulgeer het nie.

Kgosi Letlape van ActionSA en Greta Engelbrecht, regsverteenwoordiger van Solidariteit

Leon Louw, stigter van die Vryemark Stigting, sê NGV is onbekostigbaar. “Om NGV te finansier sal beteken die regering moet nog 50% van die huidige begroting van êrens af kry. Anders gestel is ’n bedrag gelykstaande aan ’n derde van die land se jaarlikse bruto binnelande produk nodig om die NGV te finansier. Die hele idee is absurd en onuitvoerbaar. Daar is reeds openbare gesondheidsorg in plek en dit moet eerder verbeter word,” sê hy.

Marie Sukers, LP van die ACDP, meen ook die huidige gesondheidstelsel moet verbeter word en het die kommer uitgespreek oor medici wat die land sal verlaat wanneer NGV geïmplementeer word terwyl daar ongekontroleerde immigrasie van buurlande sal wees wat die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsels op sy knieë sal dwing. Kgosi Letlape van ActionSA sê die ANC-regering het reeds bewys hulle kan nie die huidige openbare gesondheidstelsel behoorlik bestuur nie en kan kwalik vertrou word om ’n selfs groter stelsel effektief te bedryf.

Phillip van Staden, LP van die VF Plus, het die openbare deelname proses vir die publiek se insette oor die NGV bevraagteken. “Ons weet daar is nagenoeg 380 000 skriftelike insette oor die NGV ingedien, maar ons het dit nooit onder oë gekry nie en weet ook nie hoeveel van hierdie insette ten gunste van of dan teen die NGV was nie. Daar is ook vrae oor wie openbare deelname sessies bygewoon het aangesien dit meestal in plekke aangebied is waar die ANC tradisioneel baie stemme kry,” sê hy.

AfriForum meen die NGV is ongrondwetlik en is ook gereed om ’n hofstryd daarteen te voer. “Dis verblydend om te sien dat daar soveel groepe is wat hierdie wetgewing teëstaan. AfriForum is ook gereed om hof toe te gaan om NGV te stop,” sê Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum.

Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum

Lees hier meer oor wat AfriForum gaan doen om NGV te beveg of om jou steun aan dié burgerregteorganisasie te gee om NGV te stop.

Soortgelyke plasings