|

Sowat 600 inwoners onderteken petisie oor watertekort in Heilbron – eis dringende optrede van VS-premier

Nagenoeg 600 inwoners van Heilbron en die omliggende gemeenskappe van Sandersville en Phiritona het deur AfriForum se petisie hul stem laat hoor oor die ernstige watertekorte wat weens die implementering van Rand Water se waterverminderingsmaatreëls hier voorkom. Watervermindering in hierdie gebied spruit voort uit die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se wanbetaling aan Rand Water. AfriForum het intussen dié petisie aan die Vrystaatse premier voorgelê en eis nou dringende ingryping by dié situasie.

In ’n poging om die impak van watervermindering te mitigeer, pas die Ngwathe-munisipaliteit boonop tans beurtwater toe. Volgens AfriForum se streekskoördineerder in die Mooirivier-streek, Alta Pretorius, bied dié benadring egter nie genoegsame verligting nie aangesien die voorkoms van gebarste waterpype en lekkasies omvangryk is, herstelwerk daarvan sloer en derhalwe grootskaalse waterverlies van kosbare water tot gevolg het.  

Die Heilbron-, Sandersville- en Phiritona-gemeenskappe het reeds meer as ’n maand gelede, op 8 Mei, opgeruk na die munisipaliteitskantoor om teen die watertekorte in die gebied protes aan te teken. Ten spyte van die erns van die saak, het Ngwathe-munisipaliteit se burgemeester, Victoria de Beer, nie opgedaag om die memorandum in ontvangs te neem nie.

Dit het AfriForum se Heilbron-tak genoop om ’n petisieveldtog van stapel te stuur waarin die premier se ingryping geëis word. Die gemeenskappe dring onder meer daarop aan dat die skuld aan Rand Water as ’n saak van dringendheid hanteer moet word; dat bevoegde munisipale amptenare aangestel moet word; en dat amptenare die nodige hulpbronne en ondersteuning moet kry om hul werk na behore te doen. Ondertekenaars eis voorts dat, indien die burgemeester nie aan dié eise voldoen nie, sy uit haar amp verwyder moet word.

Intussen ondersoek AfriForum se regspan ook die moontlikheid om verdere stappe teen Rand Water te doen.

“Die inwoners van Heilbron en die omliggende gemeenskappe is vuisvoos. Sommige inwoners is al maande en ander selfs jare lank in die steek gelaat en moet klaarkom sonder lopende water. Die munisipaliteit doen duidelik nie hul werk nie – dit het tyd geword vir die premier om in te gryp by hierdie krisis,” beklemtoon Pretorius.

Soortgelyke plasings